Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mmusi kap Phumzile oor voorval by V&A Waterfront

Mmusi Maimane het sy vuurvreter-kollega Phumzile van Damme voor stok gekry nadat sy Dinsdag volgens haar eie erkenning ’n jong man by die V&A Waterfront aangerand het nadat hy na bewering op ’n rassistiese manier teenoor haar opgetree het.

Phumzile van Damme saam met haar broer Sandile Mkhwanazi by Donderdag se staatsrede. Foto: Edrea du Toit

“Geweld kweek altyd geweld,” het die DA-leier voor die staatsrede Donderdagaand op die rooi tapyt aan die Independent Media-joernalis Tshego Lepule gesê.

“Ek is altyd spyt oor rassistiese voorvalle, en ek veroordeel rassisme, maar die beste manier om te reageer is om te versoen,” het Maimane gesê ná ’n vraag oor die voorval waarby Van Damme betrokke was.

“Ons werk moet altyd wees om te versoen,” het Maimane gesê. “Of dit Zindzi Mandela . . . of die insident by die Waterfront is, ek doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om met die projek van versoening aan te hou.”

Van Damme het Dinsdag op Twitter ’n wit familie van rassisme beskuldig en gesê sy het die seun “uit selfverdediging” met die vuis teen die kop geslaan.

Rapport kon nie die gesin opspoor om hul weergawe van gebeure te vra nie.

‘Ek berou niks wat ek gesê het nie.’

In ’n video wat Van Damme getwiet het van haar gesprek met ’n veiligheidsbestuurder van die Waterfront, sê sy die vrou het haar “dreigend” aangekyk.

“Ek het na haar gegaan en gevra hoekom kyk sy dreigend na my. Toe sê sy ‘dis omdat jy swart is’. Toe het haar seun gekom en ‘voertsek’ in my gesig gesê. Ek het gevra wat gee hom die reg om dit te sê. Hy het gesê dit is omdat ek swart is.”

Van Damme het ook ’n foto van die gesin getwiet en bygevoeg die jong man het haar selfoon glo uit haar hand gestamp.

“Hy het my met geweld gedreig. Ek het hom uit selfverdediging met die vuis teen die kop geslaan.”

Van Damme het later aan The Sowetan gesê: “Ek berou niks wat ek gesê het nie. Ek het die man uit selfverdediging geslaan. Ek wens net ek het die voorval verfilm sodat ek iets gehad het om myself mee te verdedig.”

Luidens die berig in The Sowetan het Van Damme gesê die voorval het in Clicks begin toe iemand aan haar gestamp het en nie verskoning wou vra nie.

Van Damme het toe die vrou buite die winkel gekonfronteer, waarna die vrou glo aggressief geraak het.

Van Damme wil met regstappe voortgaan selfs al weet sy nie wie die familie is nie.

“Ek konsulteer met Glynnis Breytenbach (DA-LP) wat by die NVG (nasionale vervolgingsgesag) was, om ’n verklaring op te stel sodat die reg sy gang kan gaan,” het Van Damme gesê.

Die bestuur van die Waterfront, wat ook nie weet wie die gesin is nie, het Dinsdagmiddag vir Van Damme op sosiale media verskoning gevra.

Toe Rapport gevra het om die beeldmateriaal van die voorval te sien, het Donald Kau, woordvoerder, gesê dit sal slegs aan ’n ondersoekbeampte van die polisie beskikbaar gestel word.

Van Damme het ondersteuning by van haar kollegas gekry, waaronder die nuwe DA-LP Nazley Sharif.

Ook Black First Land First (BLF) se woordvoerder, Lindsay Maasdorp, het op Twitter gesê hulle staan saam met haar teen die Waterfront, maar Van ­Damme wou niks van BLF-steun weet nie. “Nee, baie dankie. Ek het nie BLF-steun nodig nie. Moenie ry op die rug van my pyn om politieke punte aan te teken vir jul nonsens nie,” het sy gesê.

Kollegas siek vir haar optrede

Talle DA-LP’s het aan Rapport gesê hulle is “siek” vir Van Damme se optrede op sosiale media.

“Dis asof sy dink sy word nie deur die DA se sosialemediabeleid geraak nie,” het ’n DA-LP gesê.

’n Ander LP het gesê die DA se leierskorps is bekommerd oor die skade wat sy die party op sosiale media berokken. Ook in koukusvergaderings spaar sy nie haar kritici nie. Tydens die party se eerste koukusvergadering vanjaar het sy teen haar kollega Ghaleb Cachalia te velde getrek.

Van Damme het Cachalia weer die afgelope week getakel. Op Twitter het sy hom van homofobie en seksisme beskuldig nadat Cachalia saamgestem het met ’n twiet van Gwen Ngwenya, voormalige DA-beleidshoof, wat Van Damme en Steve Hofmeyr se optrede met mekaar vergelyk het.

“Sy het ’n woedeprobleem. Sy het ook al in ’n vergadering teenoor ’n DA-raadslid gesê ‘f** jou’ toe hulle ’n meningsverskil gehad het,” sê ’n anonieme LP.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende bestuur, het in Maart aan Rapport erken hy het Van Damme in die verlede al aangeraai om nie omstrede onderwerpe op sosiale media te bespreek nie.

Van Damme het gesê Rapport word deur haar vyande in die party “gebruik”, en wou geen navrae beantwoord nie.

Meer oor:  Phumzile Van Damme  |  Mmusi Mai­Mane  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.