
Mmusi Maimane, DA-leier, vergesel jeugdiges om te registreer om te kan stem. Foto: DA
Mmusi Maimane, DA-leier, het Sondag op die laaste dag van die registrasienaweek jong mense in sy tuisdorp in Dobsonville, Soweto, aangemoedig om vir vanjaar se verkiesing te registreer.
Dit was die laaste registrasienaweek van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) waar mense as kiesers kon registreer. Die verkiesing vind in Mei plaas.
Maimane is deur sy ouers, Simon en Ethel Maimane, vergesel na die Presbiteriaanse kerk in Dobsonville.

Maimane moedig mense in sy tuisdorp aan om te registreer. Foto: DA
Solly Msimanga, die party se premierskandidaat in Gauteng, het hom by die Maimane-gesin aangesluit.
“Dié verkiesing is die belangrikste sedert 1994 omdat burgers ’n keuse het om hul demokratiese reg te gebruik om te stem vir ’n toekomstige DA-regering wat een Suid-Afrika vir almal gaan bou,” sê Graham Charters, adjunkpersoneelhoof in Maimane se kantoor.
“Ons het gekom om te registreer om te stem, ons het na ons besonderhede kom kyk. Ons wil ’n Suid-Afrika bou, ons wil ’n land bou waar alle burgers saam kan staan en een nasie bou. Ons kan wys dat ons werksgeleenthede vir ons mense kan skep en kan verseker dat al ons mense werk het,” het Maimane gesê.
Hy het veral jong mense aangemoedig om te registreer sodat hulle die regering kan kies wat hulle wil hê.
Maimane het ook ongeregistreerde kiesers vergesel om te registreer.