Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mmusi se huis-moles

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het ’n Kaapstadse huis ter waarde van amper R4 miljoen in ’n parlementêre register gelys as sy eiendom terwyl dit nog nooit aan hom behoort het nie.

Mmusi Maimane

Nadat Rapport hom oor die teenstrydigheid gekonfronteer het, het die leier van die amptelike opposisie nou omgeswaai en gesê hy huur eintlik die huis van ’n jarelange vriend.

In Rapport se ondersoek na die huis in Clevelandweg in Claremont het die koerant egter afgekom op talle teenstrydighede. Dit sluit in die feit dat:

  • Maimane in September 2018 aan die parlement verklaar het dat die huis in Claremont (asook ’n huis in Weltevredenpark in Roodepoort, Gauteng) aan hom behoort. Dit is egter nie waar nie. Volgens inligting in die aktekantoor is hy en sy vrou, Natalie, se enigste vaste eiendom die huis in Roodepoort. Maimane het die afgelope week nie geantwoord op ’n geskrewe vraag waarom hy in 2018 voorgegee het dat die huis in Claremont aan hom behoort nie.
  • Die werklike eienaar van die huis in Claremont is die rakmaatskappy K2016495571. Die Durbanse sakeman Wessel Jacobs het die afgelope week bevestig dat hy die enigste direkteur en aandeelhouer van dié maatskappy is. Jacobs het die huis in September 2017 vir R3,85 miljoen gekoop. ’n Verband van R2,55 miljoen is in 2018 geregistreer. Jacobs sê die maatskappy het die restant betaal.
  • ’n Bron wat kennis dra van die transaksie het egter teenoor Rapport beweer dat die Johannesburgse sakeman Antony Ball ook destyds bygedra het tot die koop van die huis.
Rapport verstaan daar is al geruime tyd ongemak binne die DA-koukus oor die huis.

Toe Rapport Maimane se woordvoerder, Azola Mboniswa, vra of dit waar is en wat die omvang van Ball se bydrae was, het Mboniswa bloot gesê dat “verklarings hieroor reeds aan sowel die parlement as die DA gemaak is”.

Rapport kon egter geen teken van so ’n verklaring vind nie. Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, het aan die koerant gesê hy is nie bewus dat so ’n verklaring ooit gemaak is nie.

Ball het nie geantwoord op die vraag of hy ’n bydrae tot die huis gemaak het nie. Hy sê hy volstaan met Maimane se antwoord in dié verband.

Die huis in Claremont wat Mmusi Maimane glo by die sakeman Wessel Jacobs huur. Foto’s: Google Maps en Edrea du Toit
Die huise in Claremont wat Maimane glo by die sakeman Wessel Jacobs huur. Foto: Edrea du Toit

Jacobs hou vol dat die koopsom deels met kontant en deels ’n verband gefinansier is. Hy het nie geantwoord op die vraag of hy vir Ball ken nie. Ball sê egter dat hy Jacobs van geen kant af ken nie.

  • Anders as ’n jaar gelede, toe Maimane gesê het die huis in Claremont behoort aan hom, het hy die afgelope week gesê hy betaal markverwante huurgeld. Hy wou egter nie sê hoeveel dit beloop nie.

Jacobs het dit beaam, maar toe hy gevra is vir ’n huurkontrak het hy gesê hy is “oor die algemeen ’n voorstander van deursigtige, feitegebaseerde en billike joernalistiek” maar dié inligting is vertroulik.

Wessel Jacobs, die Durbanse sakeman by wie Maimane glo die huis huur.

Volgens ’n eiendomsagent beloop huurgeld in dié deel van Kaapstad tussen R15 000 en R20 000 per maand.

Steenhuisen het die afgelope week gesê dat LP’s gewoonlik nie huurhuise op hul belangeverklarings hoef te lys nie – mits hulle markverwante huur betaal.

Dit, sê DA-bronne, sou kon verduidelik waarom Maimane onder die opskrif “Benefits” op sy belangeverklaring verlede jaar die enkele naam “W. Jacobs” ingevul het. Wat die voordeel is wat hy van “W. Jacobs” ontvang, het Maimane egter nie destyds verduidelik nie – en ook nie toe Rapport hom die afgelope week pertinent daarna vra nie.

Jacobs en Maimane se verhouding is ook meer as net dié tussen huurder en verhuurder. Volgens albei is hulle reeds “jare lank vriende”. Jacobs is eienaar van Jacobs Capital, ’n private beleggingsmaatskappy in Durban en ook trustee van Maimane se familietrust, die Kgalaletso Kgosi-trust.

Die sakeman Antony Ball word betrek by Mmusi Maimane se huismoles.

Ook Ball sê hy ken Maimane al “geruime tyd”. Ball is lid van die direksies van Real Foods, PPC en Altron, en was tot 2011 uitvoerende hoof van die beleggingsfirma Brait, wat deesdae meerderheidsaandele in onder meer Virgin Active en Premier Foods besit.

Rapport verstaan daar is al geruime tyd ongemak binne die DA-koukus oor die huis en Maimane se vae belangeverklaring hieroor.

Adv. Glynnis Breytenbach, voorsitter van die DA se federale regskommissie wat tugondersoeke doen en tugverhore hanteer, is skynbaar verlede jaar gevra om te kyk of alles in orde is met die manier waarop Maimane die kwessie oor die huis in sy belangeverklaring gehanteer het.

Breytenbach het volgens nog ’n goed geplaaste bron bevind dat “geen misdaad gepleeg is nie”.

Die volle bevindinge van haar ondersoek is glo nooit bekend gemaak nie en slegs met Maimane self gedeel.

Gevra oor dié ondersoek en die uitslag daarvan het Mboniswa bloot gesê dat Maimane “nog altyd die nodige verklaring aan die parlement en sy party gemaak het”.

LP’s wat hul belange nie korrek verklaar nie kan onder meer met ’n tydelike vermindering in hul salaris gestraf word.

In 2010 is oudpres. Jacob Zuma op die vingers getik nadat die openbare beskermer in ’n verslag die oudpresident daarvan beskuldig het dat hy die uitvoerende gesag se gedragskode oortree het.

Hy het nie sy belangeverklaring betyds ingedien nie.

Die ondersoek hieroor is destyds deur die DA se parlementêre leier, Athol Trollip, aangevra.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  John Steenhuisen  |  Wessel Jacobs  |  Claremont  |  Eiendom  |  Da-Koukus  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.