Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mmusi: Tyd vir nuwe leierskap in Kaapstad
’n DA-mediakonferensie, by die party se kantore in Gardens in Kaapstad, is gelei deur die DA-leier Mmusi Maimane en James Selfe, die voorsitter van die DA se federale raad. Foto: Jaco Marais

“Dit is tyd vir nuwe leierskap in die Kaapstad-metro.”

Mmusi Maimane, DA-leier, en James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het op ’n mediakonferensie in Kaapstad beklemtoon dat “nuwe leierskap” nodig is om te verseker dat die publiek se vertroue in dié DA-regering herstel word en dat die party se koukus in die stadsraad weer verenig is.

Die twee het dit duidelik gestel dat hul lede in die stadsraad voortgaan met die mosie van wantroue in Patricia de Lille, DA-burgemeester van Kaapstad, ongeag haar dringende hofgeding.

De Lille het verlede Donderdag ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien vir ’n geheime stemming sodat DA-stadsraadslede volgens hul gewete mag stem in die mosie van wantroue in haar.

Die aansoek sal na verwagting Dinsdag deur regter Robert Henney aangehoor word, terwyl die mosie van wantroue in De Lille Donderdag op ’n spesiale vergadering voor die raad sal dien.

Maimane het ná afloop van die party se federale raadsvergadering die naweek gesê die besluit om De Lille te verwyder, lê geheel en al by die stadsraadslede.

Hoewel die situasie vir die DA ongekend en pynlik is, meen ons dit is tyd vir nuwe leierskap.
Mmusi Maimane, DA-leier.

“Hoewel die situasie vir die DA ongekend en pynlik is, meen ons dit is tyd vir nuwe leierskap om die stadskoukus vorentoe te neem en die publiek se vertroue in die DA-regering te herstel,” het Maimane gesê.

Volgens hom moet die voortslepende konflik tussen die party en De Lille nou end kry.

Maimane sê hulle wil hê die DA-regerings moet op ’n bepaalde manier funksioneer en die De Lille-kwessie kan nie maande lank uitgerek word nie.

Hy het ontken dat die party net op De Lille fokus, terwyl bewerings teen ander raadslede net onder die mat ingevee word.

“ ’n Aantal ander raadslede, altesame 11, word ook dissiplinêr aangekla oor hul optrede in die aangeleentheid, waaronder JP Smith,” het hy gesê.

Al word ek uit die DA geskop, sal ek veg om my naam in ere te herstel, of ek nou die burgemeestersketting dra of nie maak geen verskil nie.

Selfe het gesê hulle gee die stadskoukus die versekering dat hul stem vry is en dat daar geen gevolge vir raadslede sal wees nie.

In ’n onlangse koukusstemming het 84 DA-raadslede teen De Lille gestem, terwyl 59 haar ondersteun het. Een lid se stembrief was bederf.

De Lille hou egter vol dat die geveg teen haar persoonlik van aard is en dat die DA nie kan bewys dat sy in haar pligte misluk het nie.

“Al word ek uit die DA geskop, sal ek veg om my naam in ere te herstel, of ek nou die burgemeestersketting dra of nie maak geen verskil nie. Ek sal nie toelaat dat die party my naam beswadder en daarmee wegkom nie. Ek sal tot die bitter einde terugbaklei,” het De Lille vroeër gesê.

Meer oor:  James Selfe  |  Mmusi Maimane  |  Kaapstad  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.