Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mmusi vat pakkie KFC vir Noord-Kaapse premier

Mmusi Maimane, DA-leier, is Vrydagoggend met ’n pakkie kitskos in die een hand en ’n memorandum in die ander na die kantoor van Sylvia Lucas, Noord-Kaapse premier, in Kimberley.

Die Streetwise 2 van KFC is ’n verwysing na Lucas wat in die eerste tien weke van haar ampstermyn meer as R50 000 se kitskos met haar amptelike kredietkaart gekoop het.

Die DA-leiers aan die voorpunt van die opmars is (van links) Andrew Louw, Noord-Kaapse leier, Mmusi Maimane, DA-leier, en Willem Faber, DA-verteenwoordiger in die Nasionale Raad van Provinsies. Foto: Christiaan Cloete

Lucas is in die verlede al genadeloos deur opposisiepartye, en veral die DA, daaroor gekasty.

Maimane en ander hooggeplaastes van die DA, onder wie Andrew Louw, provinsiale leier en premierskandidaat vir die Noord-Kaap, asook ’n groep DA-ondersteuners in blou, het omstreeks 11:00 na die premier se kantoor gestap om die memorandum te oorhandig.

In die memorandum dring die DA onder meer aan op vaardigheidsontwikkeling vir jongmense in die provinsie, die skep van werksgeleenthede, groei vir kleinsakeondernemings, asook ’n einde aan magsmisbruik en korrupsie.

Maimane het in ’n toespraak voor die premierskantoor gesê beurse kon aan jongmense gegee word met die duisende rande wat Lucas op kitskos geblaas het.

Die Noord-Kaap, wat ’n werkloosheidskoers van 40,1% het, het die hoogste getal werklose jongmense (tussen 15 en 24) in die land en Maimane sê dringende verandering is nodig om die kanse op werk te verbeter.

Hy het vertel dat hy Beefmaster, ’n plaaslike onderneming in Kimberley, se abattoir besoek het en hy verneem dat die maatskappy op die punt is om hul sake na Johannesburg te verskuif omdat dit te duur geword het om sake in Kimberley te doen. Daar is ook nie ’n waarborg van ononderbroke kragverskaffing nie.

“As die plaaslike regering die basiese goed reg doen, sal ondernemings soos dié in die Noord-Kaap bly. As dié onderneming moet oppak en gaan, sal 400 werknemers onmiddellik hul werk verloor en 2 000 afhanklikes skielik hul huishoudelike inkomste kwyt wees.”

’n Groep DA-ondersteuners luister Vrydagoggend na ’n toespraak van Mmusi Maimane voor die Noord-Kaapse premier se kantoor in Kimberley.Foto: Christiaan Cloete
Die DA-leiers aan die voorpunt van die opmars is (van links) Andrew Louw, Noord-Kaapse leier, Mmusi Maimane, DA-leier, en Willem Faber, DA-verteenwoordiger in die Nasionale Raad van Provinsies.Foto: Christiaan Cloete
Liz Botes, adjunk-direkteur-generaal van die Noord-Kaapse premier se kantoor, ontvang die memorandum van Mmusi Maimane, DA-leier. Foto: Christiaan Cloete

Maimane het ook gesê mense is moeg vir korrupsie.

“Kimberley sit met ’n Groot Gat, maar ek sê vandag vir julle die gat van korrupsie in die provinsie is groter as daai een.”

Volgens hom moet daar gewaak word daarteen dat die Noord-Kaap ’n provinsie word waar mense se drome sterf en jongmense na ander provinsies moet vlug om ’n bestaan te maak.

Liz Botes, adjunk-direkteur-generaal van die premier se kantoor, het die DA se memorandum ontvang, geneem, maar sy wou nie die kospakkie aanvaar nie.

Botes het gesê die premier is uitstedig en dat sy in elk geval as staatsamptenaar nie geskenke mag ontvang nie.

Daar is gevra dat die premier binne sewe dae van ontvangs van die memorandum daarop moet reageer.

Meer oor:  Sylvia Lucas  |  Mmusi Maimane  |  Kimberley  |  Kitskos  |  Memorandum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.