Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Mnr. Singh, dis 8 kissies, nié 4
Anoj Singh getuig Donderdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Daar was agt bewaarkissies en nie vier, soos Anoj Singh vantevore getuig het, nie. Saam opmekaar gestapel sou hulle 1,6 m hoog gestaan het.

Dit is hoeveel groot tot ekstra-ekstragroot bewaarkissies Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet en Eskom, by die Knox Vault-geriewe in Johannesburg gehuur het, volgens bewyse wat Donderdag deur die Zondo-kommissie van ondersoek bekend gemaak is.

Singh, wat deur die kommissie teruggeroep is om nog vrae te beantwoord, ontken die getuienis van ’n geheime getuie, slegs bekend as Getuie 3. Dié het getuig hy het Singh ses of sewe keer van die Gupta-woning in Saxonwold reguit na Knox Vault geneem. Hy ontken ook die bewering dat hy kontant by die Guptas gekry en kontant in die bewaarkissies gaan versteek het.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die Zondo-kommissie, demonstreer Donderdag hoe hoog die agt bewaarkissies – opgestapel op mekaar – sou wees wat Anoj Singh by Knox Vault gehuur het. Foto: Skermgreep

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Singh gestel dat hy met sy vorige getuienis erken het dat hy vier bewaarkissies by Knox Vault gehad het. Maar dit was eintlik dubbel soveel. Dit was agt.

Die kommissie het Knox Vault in Junie 2019 gedagvaar om inligting te verskaf oor bepaalde individue wat daar bewaarkissies gehad het, hoeveel bewaarkissies gehuur is, hoeveel keer die individue die kluis se geriewe besoek het en hoe groot die gehuurde bewaarkissies was.

In Singh se geval was daar 22 besoeke aan Knox Vault in die tydperk tussen 2013 en Augustus 2017. Dit stem ooreen met die datums in die getuienis van Getuie 3, wat toe sy motorbestuurder was, oor die kere dat hy Singh van die Guptas af na die kluisgeriewe geneem het.

Myburgh het na Singh se vorige getuienis verwys en dit aan hom gestel dat hy toe verduidelik het dit was vier bewaarkissies, een vir elke lid van sy gesin, vir homself, sy vrou en sy twee kinders. In 2014, toe hy die bewaarkissies gehad het, was sy kinders vier en 12 jaar oud. Noudat die inligting bekend is dat dit agt bewaarkissies was, wat het Singh dan in twee bewaarkissies vir elke gesinslid gestoor?

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die Zondo-kommissie, stel Donderdag vrae aan Anoj Singh. Foto: Skermgreep
Adjunkhoofregter Raymond Zondo by Donderdag se sitting van die kommissie. Foto: Skermgreep

Singh het geantwoord hy kan regtig nie onthou nie, geboortesertifikate, identiteitsdokumente en ander dokumente. Hy het gesê dit was sy persoonlike sake en hy sien nie die relevansie om daaroor te getuig nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het dit aan Singh gestel wat in die bewaarkissies was, is uiters relevant, want daar is bewerings dat hy geld wat hy by die Guptas ontvang het na Knox Vault geneem het.

Myburgh het aan Singh gesê hy het voorheen getuig dat hy juwele vir sy vrou en sowat R100 000 kontant in die bewaarkissies gehou het en dat hy getuig het dit was geld wat hy verdien het met bykomende werk, asook uit dobbelary.

Hierop het Singh geantwoord hy het ook dokumente daarin gestoor.

Zondo het hierop aan Singh uitgewys dat hy tydens sy vorige getuienis na vier bewaarkissies verwys het. Hoe verduidelik hy nou die agt bewaarkissies, wat dubbel soveel is as die aantal gesinslede?

Sing het geantwoord die besonderhede van die bewaarkissies by Knox Vault het nie bestaan toe hy die vorige keer daaroor getuig het nie. Hy het op sy geheue staatgemaak toe hy getuig het dit was vier bewaarkissies.

Myburgh het kwitansies vir wanneer Singh die bewaarkissies begin huur het in die rekord ingelees:

• Op 12 Februarie 2013 het Singh sy eerste bewaarkissie gehuur, dit was ’n klein bewaarkissie;

• Op 8 Mei 2014 het hy die klein bewaarkissie opgegradeer na ’n groot een en ’n bykomende tweede bewaarkissie gehuur;

• Op 9 Junie 2014 huur hy nog ’n groot bewaarkissie;

• Op 1 Augustus 2014 huur hy ’n bykomende groot bewaarkissie (nou het hy vier bewaarkissies);

• Op 15 Augustus 2014 huur hy ’n bykomende twee groot bewaarkissies, twee weke nadat hy die vorige bykomende bewaarkissie gehuur het;

• Op 11 Oktober 2014 huur Singh ’n ekstragroot bewaarkissie, bykomend tot die ses groot bewaarkissies wat hy reeds daar huur; en

• In Februarie 2015 huur hy ’n bykomende ekstra-ekstragroot bewaarkissie en kry 20%-afslag op die bedrag wat hy moet betaal.

Myburgh het aan Singh gevra of hy miskien afslag gekry het omdat hy ’n goeie kliënt was. Hierop het Singh geantwoord dit kan wees.

In Augustus 2017 het Singh die huur van die bewaarkissies gekanselleer en al die sleutels aan Knox Vault teruggegee.

Myburgh het aan Singh gevra wat het daartoe gelei dat hy in Mei 2014 twee groot bewaarkissies gehuur het.

Singh het hierop geantwoord hy en sy vrou was besig om te skei en hy het van sy persoonlike items uit hul huis verwyder en daarin gaan stoor.

Hierop het Myburgh aan Singh gesê hy het nie vantevore dié getuienis gelewer nie. Singh het geantwoord dit is sy private sake.

Zondo het dit aan Singh gestel as hy die bewaarkissies nodig gehad het vir persoonlike items wat hy in sy huis gehad het, maar toe by Knox Vault wou gaan stoor, was dit nie nodig om meer te sê nie. Hy kon so daaroor getuig het.

Singh het geantwoord dit was die trant van sy vorige getuienis, nou word daar nuwe inligting aan hom gestel en hy gee ’n verduideliking oor die nuwe getuienis.

Myburgh het verwys na die grootte van die verskillende bewaarkissies en gesê volgens sy berekening sou dit saam 160 cm (1,6 m) hoog wees indien mens dit op mekaar stapel.

Singh getuig verder.

Meer oor:  Knox Vault  |  Anoj Singh  |  Staatskaping  |  Bewaarkissies  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.