Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Modise, Masondo nie deur EFF-dreigemente ontsenu

Die EFF se openlike dreigemente om pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand te ontwrig, is net pogings om die parlement se aandag van sy werk af te lei.

Thandi ModiseFoto: CITY PRESS

So sê Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, toe hulle Dinsdag Suid-Afrikaners weer verseker het dat die parlement wel “gepaste meganismes” in plek het om ’n ordelike staatsrede te verseker, waarvan die dekorum en waardigheid Donderdagaand behou sal word.

Dit nadat Julius Malema, EFF-leier, Sondag weer gedreig het dat sy party die staatsrede sal ontwrig tensy Ramaphosa vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, voor dit sal afdank.

Die EFF het Dinsdagoggend ook beweer dat hy bewus is dat die parlement “geheime vergaderings” hou om bykomende polisielede Donderdagaand “in te smokkel om geweld op sy LP’s los te laat” as hulle die staatsrede sou ontwrig.

Dié party hou egter vol dat sy LP’s nie daardeur geïntimideer gaan word nie en dat hulle steeds sal voortgaan om die verrigtinge te ontwrig.

Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder, het in ’n verklaring gesê dat dit die parlement se plan is om polisielede “in swart en wit (hemde) in te bring, soortgelyk aan dié in die vorige parlementêre termyn wat die korrupte en onbevoegde oudpres. Jacob Zuma moes verdedig.”

“Enige poging om die opposisie in die parlement te onderdruk sal beslissende en radikale reaksies ontlok,” het Pambo namens sy party gewaarsku.

Beskerming teen wanorde

Modise en Masondo het in reaksie op die EFF se jongste beweringe Dinsdagmiddag in hul eie verklaring gesê dat “bestaande, gesamentlike reëls parlementêre en portefeuljekomitee-sittings voldoende teen wanorde beskerm”.

Modise en Masondo het dit duidelik gestel dat politieke partye of LP’s wat bewyse het van enige beweerde komplot om die polisie onwettig gedurende die staatsrede in die parlement te gebruik, aangeraai word om sulke bewyse aan hulle, die voorsittende beamptes, voor te lê.

“ ’n Rits maatskaplik-ekonomiese probleme staar Suid-Afrikaners in die gesig. Die parlement en openbare verteenwoordigers het ’n verpligting om ’n bevorderlike omgewing vir die staatsrede daar te stel wat ingrypings sal uitstippel om hierdie probleme op te los.

“Die staatsrede gee ook aan die parlement die geleentheid vir doeltreffende toesig oor die uitvoerende gesag om die lewering van gehaltedienste te verseker.”

Modise en Masondo het daarom bygevoeg dat hulle uitsien na ’n suksesvolle staatsrede en dat hulle tevrede is met die voorbereidingswerk vir die geleentheid wat deur 2 000 uitgenooide gaste bygewoon sal word.

Meer oor:  Ontwrigting  |  Staatsrede2020  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.