Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Moeg om ‘bruin’ te wees as dit regering pas

’n Aktivis wat moeg is daarvoor om as ’n bruin Suid-Afrikaner geklassifiseer te word, sleep nou die regering hof toe om die aparte klassifikasies van bruin en Indiër te skrap en hulle eerder net as swart Suid-Afrikaners te beskou.

Glen Snyman

Glen Snyman, ’n onderwyser van Oudtshoorn en stigter van People Against Race Classification (Parc), het ’n hofsaak teen die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) en die nasionale departement van basiese onderrig in die Kaapse arbeidshof begin.

Hy eis onder meer dat:

* Bruin en Indiese mense se rasklassifikasie dieselfde gewig moet dra as wanneer swart kandidate vir poste of bevordering oorweeg word;

* Blokkies op aansoekvorms waarin iemand hulself as bruin of Indiër moet klassifiseer, van alle WKOD-vorms verwyder moet word.

* Iemand homself as “ander” kan aandui by die persoon se rasseklassifikasie, in plaas van bruin of Indiër, op die WKOD se werwingswebtuiste;

* Die WKOD onmiddellik ophou om die woord en identiteit “bruin” te gebruik;

* Die nasionale onderwysdepartement ’n einddatum vir die WKOD se diensbillikheidsplan binne die volgende ses maande aankondig; en dat

* ’n Regstelling aangebring word in die diensbillikheidsplan van die WKOD om die rasseklassifikasie van ’n kandidaat weg te laat.

Die WKOD en die nasionale onderwysdepartement het aangedui dat hulle Snyman se aansoek teenstaan.

In die nasionale onderwysdepartement se hofstukke sê hulle die Wet op Gelyke Indiensneming bepaal reeds dat die generiese term “swart” gebruik word vir swart, bruin en Indiërmense.

Dié generiese term verskyn ook in die WKOD se diensbillikheidsplan.

Snyman, wat as onderwyser by die Fezekile Secondary School in Oudtshoorn werk, hou egter vol bruin mense word anders as swart mense behandel.

Hy sê hy moes al drie keer aansoek doen vir ’n pos waar hy ’n “diskriminerende rasblok” moet kies.

“Selfs al kies ek nie ’n rasblok nie, sal die paneel van onderhoudvoerders outomaties aanneem dat ek bruin is,” lui Snyman se stukke.

“Dit moet stop.”

Hy noem voorbeelde in sy hofstukke waar bruin mense net as “bruin” geklassifiseer word wanneer hulle aansoek doen om werk, maar as “swart” geklassifiseer word wanneer dit ander pas.

’n Datum vir die aanhoor van die aansoek moet nog bepaal word.

Meer oor:  Diskriminasie  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.