Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Moenie kommissies se werk vooruit loop, maan Mabuza

Adj.pres. David Mabuza waarsku die werk van huidige kommissies van ondersoek moenie vooruit geloop word nie.

Hy het dié beroep Woensdag in vraetyd in die Nasionale Vergadering (NV) gedoen toe Phumzile van Damme, DA-LP, gevra het waarom die ANC nie sy lede skors wie se name in onder meer die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping opgeduik het nie.

Mabuza het geantwoord niemand is bo die reg verhewe nie. “Wie ook al skuldig bevind word, sal nie die gereg ontduik nie. Selfs as ek aan die verkeerde kant van die reg gevind word, moet die reg sy gang gaan.”

David Mabuza at Nedlac sept 2018
David Mabuza

Hy sê die prosesse wat besig is om voor die kommissies te ontvou, moet in gedagte gehou word. As iemand bewerings oor iemand anders maak, moet daardie persoon ook sy of haar kant van die saak kan stel. Op grond daarvan sal die voorsitter van die onderskeie kommissies uitspraak lewer.

As daar mense is wat vervolg moet word voortspruitend uit die kommissies van ondersoek, dan moet dit so wees, sê hy.

“Almal van ons gaan hier wees, tensy ons sterf, maar eendag sal almal van ons die bevindinge van die kommissies hê. Ons kan almal ons eie interpretasie hê, maar laat die kommissies hul gang gaan – dit is die logiese ding om te doen,” sê Mabuza.

Hy het ook op ’n vraag van John Steenhuisen, DA-hoofsweep, gereageer oor waarom hy laat in 2018 drie opeenvolgende vraesessies in die NV misgeloop het.

Mabuza het erken hy was in een van die gevalle in Rusland vir mediese behandeling. “En as dit noodsaaklik word, sal ek daarmee voortgaan ter wille van my gesondheid,” het hy geantwoord.

In die tweede geval moes hy met verskeie staatshoofde oor die vredesproses in Suid-Soedan vergader en in die derde geval het pres. Cyril Ramaphosa hom gevra om Emmanuel Macron, president van Frankryk, te ontmoet tydens sy staatsbesoek aan Suid-Afrika.

Hlengiwe Mkhaliphi, EFF-LP, het in haar vraag na Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, as “arrogant en berug” verwys en gesê “hy doen net wat hy wil, raak van swart ingenieurs ontslae” en dit lyk asof hy die rol van adjunkpresident van die land oorgeneem het.

ANC-LP’s het opgespring en kapsie gemaak teen Mkalipi se bewerings.

Mabuza het geantwoord dit is “inkorrek” dat Gordhan as adjunkpresident optree. “Ek is die adjunkpresident. As ek na minister Pravin Gordhan kyk, het hy nie enige aptyt om adjunkpresident te word nie,” het hy gesê, waarop Gordhan sy kop geknik het.

Meer oor:  Staatskaping  |  Politiek  |  Korrupsie  |  David Mabuza
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.