Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Moenie paniekerig raak oor grondeis nie’ – minister

Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê daar is geen rede vir inwoners van Centurion en omliggende gebiede om “paniekerig te raak” oor ’n reuse-grondeis in die gebied nie.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het egter vir die eienaars van eiendom in hierdie gebiede wat deur die eis geraak word, gewaarsku om op hul hoede te wees en nie die regering te vertrou nie.

Nkoana-Mashabane het Donderdagnag in ’n verklaring gesê die grondeisekommissie het, soos die Wet op die Herstel van Grondregte vereis, op 10 Desember 2018 by Leriba Lodge in Centurion ’n vergadering gehou om die huidige eiendomseienaars in te lig dat daar bepalings in die Wet op die Herstel van Grondregte is “wat die kommissie verplig om enige groot maatskaplike ontwrigtings te vermy” wanneer grondeise hanteer word.

Omdat dit ’n toegeboude gebied is, sê die minister is dit nie moontlik om die grond wat geëis word in die hande van die eisers te plaas nie.

“Die grondkommissie sal dus in hierdie geval met die eisers vergader om opsies van alternatiewe grond, geldelike vergoeding, of enige ander vorm van herstel soos wat die wet bepaal, te oorweeg.”

Sy sê alle eienaars van eiendomme wat by die betrokke eis ingesluit word, kan seker wees die regering sal ’n “regverdige en onpartydige opsie om grondeise te skik” volg en dat hul eiendomme “geensins geraak sal word nie”.

“Daar is geen rede om bekommerd te wees en met prokureurs en strukture soos AfriForum te vergader nie. Dis totaal ongegrond en is ’n vermorsing van hul swaarverdiende geld,” sê Nkoana-Mashabane.

Sowat 1 000 mense het Dinsdagaand, ook by Leriba Lodge, AfriForum se vergadering oor die grondeis wat meer as 2 000 huishoudings raak, bygewoon.

Die eis – wat al in 1998 namens 39 verskillende families van die Mahlangu-familiegroep by die grondeisekommissie ingedien is – is in Junie verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer.

Dit raak groot dele (sowat 4 000 hektaar) van veral die suide van Centurion. Daar is ook ’n soortgelyke eis in die ooste van Pretoria.

AfriForum het aan die talle mense by die vergadering gesê dié organisasie sal die eis hand en tand beveg. Die organisasie het ook ’n mandaat van teenwoordiges gevra om namens hulle ’n regstryd te begin.

Willie Spies, AfriForum-prokureur, het Vrydag gesê die minister verwys net na beboude gebiede.

Toe Netwerk24 daaroor uitvra het die minister by monde van haar woordvoerder, Phuti Mabelebele, bevestig sy het inderdaad na volledig beboude woon- en nywerheidsgebiede verwys.

“Waar dit haalbaar is om grond te herstel en die eisers daartoe ingestem het, sal die grondkommissie die proses in lyn met die Grondwet en die Wet op die Herstel van Grondregte volg om sodanige eiendomme te koop.”

Waar dit haalbaar is om grond te herstel en die eisers daartoe ingestem het, sal die grondkommissie die proses in lyn met die Grondwet en die Wet op die Herstel van Grondregte volg om sodanige eiendomme te koop.

Op nóg ’n vraag of belastingbetalers sal moet opdok vir die alternatiewe geldelike vergoeding van ’n eiser, het Mabelebele gesê “alle grondeise is teen die staat, en nie teen grondeienaars nie” en dat die staat die eiser sal vergoed.

 Só werk ’n grondeis:

Die grondkenner prof. Elmien du Plessis verduidelik hoe ’n grondeis werk:

*  Die reg tot herstel is vervat in art. 25(7) van die Grondwet en artikel 2 van die Wet op Herstel van Grondregte.

*  Gemeenskappe of individue wat kan bewys dat hulle ’n reg op grond verloor het weens rassediskrimerende wetgewing of praktyke ná 13 Junie 1913, kan ’n eis indien.

* Indien die eis suksesvol is, kan die gemeenskap die grond terugkry, alternatiewe grond kry of geldelik vergoed word.

* Só ’n eis word ingedien ingevolge art. 10 van die Wet. As die eis op die oog af aan die wetlike vereistes voldoen, word dit in die Staatskoerant gepubliseer.

* Grondeienaars moet dan die grondeisekommissaris ’n maand kennis gee as hulle die grond wil verkoop, ruil, skenk, verhuur of onderverdeel. Die hof kan sodanige handeling ongeldig verklaar, as die nodige kennis nie gegee is nie, of as dit in kwade trou gedoen is.

* Intussen moet die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming die geldigheid van die eis ondersoek. *As die eis geldig is, is daar verskeie roetes wat gevolg kan word. Dit sluit in:

* Gewoonlik probeer die minister om ’n ooreenkoms tussen die grondeienaar en die eisers te bewerkstellig om die grond oor te dra.

As die onderhandelinge platval, kan dit hof toe gaan. Die hof het die mag om te besluit of die grond teruggegee moet word, of alternatiewe grond gegee moet word en of daar geldelike vergoeding moet wees.

Meer oor:  Grondeis  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.