Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Moenie ‘pyn wat ou landsvlag bring, afmaak nie’

“As iemand van kleur voel ek soms onveilig as die ou Suid-Afrikaanse vlag geswaai word,” sê Danielle Louw, ’n student aan die Universiteit van Kaapstad (UK), wat haar meestersgraad in menseregte doen.

’n Ruk gelede het die opsigter van ’n studentehuis buite Stellenbosch vir Louw die plek gaan wys omdat sy belang gestel het om ’n kamer daar te huur.

In een van die kamers het iemand ’n groot oranje-blanje-blou-vlag teen die muur gehang.

“Die wit opsigter het niks fout gevind met die vlag nie, maar ek het ongemaklik en onveilig gevoel. Ek was bekommerd oor wat die huurder van die kamer sou doen as hy ’n meisie van kleur daar aantref,” sê Louw.

Vir baie mense, nes Louw, is die ou Suid-Afrikaanse vlag sinoniem met apartheid, wit heerskappy en die verdrukking van mense van kleur.

Die gelykheidshof het Woensdag in Johannesburg die doellose vertoon van dié vlag tot haatspraak verklaar.

Judge Mojapelo
Regter Phineas Mojapelo lewer Woensdag uitspraak oor die ou landsvlag. Foto: Isabel Venter

Regter Phineas Mojapelo het beslis mense wat die ou Suid-Afrikaanse vlag uitstal, het ’n duidelike bedoeling om seer te maak en dat dit haat teen swart mense aanhits.

Tog het die uitspraak gemengde reaksie ontlok.

Die FAK en die Afrikanerbond het hulle teen die hofbeslissing uitgespreek, hoofsaaklik omdat dit volgens hulle afbreuk doen aan die land se kultuurerfenis.

Prof. Koos Malan, ’n grondwetkenner, sê hoewel hy saamstem dat die ou landsvlag as kwetsend ervaar kan word, meen hy die hof se uitspraak volg ’n tendens wat vryheid van spraak in gedrang kan bring.

Luidens die hof se uitspraak word die vertoon van die vlag voortaan beperk tot joernalistieke, akademiese en artistieke uitdrukking en slegs as dit in belang van die publiek is.

Word die ou vlag om enige ander rede vertoon, sal dit beskou word as haatspraak, diskriminasie en teistering soos omskryf in die Wet op Gelykheid.

Malan gee toe daar is wel enkele demokratiese lande waar daar wetlike beperkinge op simbole geplaas word.

In Duitsland, byvoorbeeld, verbied wetgewing die vertoon van simbole soos die swastika en Nazi-saluut in die openbaar.

“Maar ons is nie in dieselfde situasie as Duitsland nie, want in Suid-Afrika geld dubbele standaarde. Sekere swart politici kom byvoorbeeld weg met aanhitsing tot geweld op wit mense,” meen hy.

“Die hof se uitspraak eggo die oortuigings van die heersende elite. Die beslissing plaas Suid-Afrika op ’n ondemokratiese pad,” maan Malan.

Prof. Pierre de Vos, nog ’n grondwetkenner, sê mense wat die ou vlag in die openbaar vertoon, sonder ’n konteks om dit te regverdig, kan nou makliker voor die hof gedaag en siviel vervolg word.

Sello Hatang, Ernst Roets, ou vlag
Sello Hatang, uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-stigting, en Ernst Roets van Afriforum praat met die media buite die hof nadat uitspraak gelewer is dat die swaai van die ou Suid-Afrikaanse vlag gelykstaande is aan haatspraak. Foto: Isabel Venter

Oortreders sal nie sommer in die tronk beland nie.

“Die howe waarin oortreders verskyn, sal met sy uitsprake waarskynlik mense wil dwing om beter mense te word. Hy sal byvoorbeeld ’n boete gelas wat die oortreder aan ’n organisasie moet betaal wat homself vir rasseharmonie beywer,” sê De Vos.

Sello Hatang, uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-stigting, wat die hof genader het omdat hy meen die vertoon van die vlag sonder enige geldige rede is aanstootlik, het vroeër aan Netwerk24 gesê die uitspraak beteken niks tensy almal saamwerk aan nasiebou nie.

Louw wys daarop dat die Verenigde Nasies na apartheid verwys het as ’n misdaad teen die mensdom.

“Party gee nie om as hulle die ou landsvlag waai nie, maar ander ervaar pyn weens dit wat die vlag verteenwoordig. Dié pyn kan nie bloot afgemaak word nie,” sê Louw.

Is dít haatspraak,? vra Roets

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, het op sosiale media onder kritiek deurgeloop nadat hy ’n uitdagende twiet geplaas het.

Roets het ’n foto van die ou landsvlag geplaas en daarby gevra: “Het ek pas haatspraak gepleeg?”

By navraag het Roets gesê hy het die vlag in ’n akademiese konteks gebruik, wat as toelaatbaar beskou word.

“Ek is tans besig met navorsing oor minderheidsregte en dit is in daardie konteks dat ek die vlag vertoon het,” sê Roets.

AfriForum het die Nelson Mandela-stigting se aansoek in die hof teengestaan omdat dit volgens hom vryheid van spraak bedreig.

“Dit is onverstaanbaar hoe sekere mense oor die uitspraak gejubel het terwyl die hof in der waarheid teen vryheid van spraak beslis het. Dit het nooit spesifiek oor die vlag self gegaan nie.

“Iets kan nie bloot verbied word as dit aanstootlik is nie,” sê Roets.

Volgens hom moet AfriForum nog besluit of hy teen die hof se beslissing gaan appelleer.

Meer oor:  Mrk  |  Afriforum  |  Haatspraak  |  Ou Vlag  |  Ou Landsvlag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.