Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Moenie ras by alle probleme insleep – Mabuza

Daar moet opgehou word om ras by alle probleme in Suid-Afrika te wil insleep.

Adj.pres. David Mabuza Foto: City Press

Adj.pres. David Mabuza het Dinsdagmiddag in die Nasionale Raad van Provinsies so gesê met verwysing na senior bestuurders wat byvoorbeeld by Eskom geskors is “omdat hulle iets verkeerd gedoen het en nié oor hul velkleur nie”.

Hy het mondelings LP’s se vrae oor onder meer Eskom, die Covid-19-inentingsprogram, munisipaliteite, korrupsie en die landbousektor beantwoord.

Sy uitlatings hieroor het gekom nadat Sam Zandamela, ’n EFF-LP, by hom wou weet of dit “slegs swart bestuurders is wat hangende ondersoeke by Eskom geskors word”.

“Dit is welbekend dat Jan Oberholzer, Eskom-bedryfshoof, ’n aandeelhouer is van Stefanutti (Stocks), een van die (konstruksie-)maatskappye wat baat gevind het by korrupsie tydens die konstruksieprojek by die Kusile-kragstasie. Ons het jou in 2020 gevra of Oberholzer hangende ’n interne ondersoek geskors is en het nie ’n antwoord daarop gekry nie,” het Zandamela bygevoeg.

Netwerk24 het in April vanjaar berig hoe die spesiale ondersoekeenheid ’n nuwe ondersoek teen Oberholzer ingestel het, al het drie vorige Eskom-ondersoeke bevind hy is nie skuldig aan enige ongerymdhede nie.

Zandamela het verder gesê hulle “verneem dat Solly Tshitangano, Eskom se verkrygingshoof, afgedank is nadat hy eers hangende sy ondersoek geskors is”.

“Die hoofbestuurder van die Koeberg-kragstasie (Velaphi Ntuli) is ook weens swak prestasie geskors, maar niemand is nog vir beurtkrag geskors nie.”

Die EFF en sy leier, Julius Malema, het dit voorheen ook al herhaaldelik duidelik gemaak dat hulle geen ondersteuners van André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, is nie.

Mabuza het Dinsdag in reaksie op Zandamela se opmerking gesê hy is bekommerd oor die rasgedrewe wending en strekking van kommentaar oor Eskom. “Veral die strekking het een van ras geword. Of dit nou binne die entiteit of buite is. Ek het dit tevore ook in die parlement opgemerk.”

Ons moet wegbeweeg daarvan, anders boer ons as ’n land agteruit.

Volgens Mabuza is politici leiers in eie reg en die Grondwet lui dat ’n nierassige en voorspoedige Suid-Afrika gebou moet word.

“Daarom dink ek ons moet ophou om na ons probleme vanuit ’n ras- of rassistiese oogpunt te wil kyk.”

Mabuza het bygevoeg dat hy bereid is om na enige probleem te luister, “maar laat ons nie ’n stap verder gaan deur ’n velkleur daarby te wil voeg nie”.

“As mense geskors word, is dit omdat hulle iets verkeerd gedoen het. Nie weens hul velkleur nie. Ons moet wegbeweeg daarvan, anders boer ons as ’n land agteruit.

“Natuurlik sal ons na die aangeleentheid kyk, maat laat ons ophou om van elke probleem ’n rassekwessie te wil maak.”

Volgens hom is Suid-Afrika een land en een nasie, en daar moet toegesien word dat die land openlik vir die eenheid van alle landsburgers werk. “Ons kom van verskillende agtergronde, maar is een Suid-Afrikaanse nasie.”

Mabuza het bygevoeg dat die relevante wetstoepassingsagentskappe hul ondersoeke na enige beweringe van korrupsie by die Kusile-konstruksieprojek voortsit.

“Die regering is intussen verheug dat die nuwe Medupi-kragstasie binnekort ook ten volle operasioneel sal wees, wat bykomende elektrisiteit tot die nasionale netwerk sal voeg.

“Ons gaan ook volstoom voort om Kusile te voltooi sodat dit ook ten volle operasioneel kan word.”

Volgens Mabuza sal die bykomende elektrisiteit wel nie die hele opwekkingstekort in Suid-Afrika oplos nie, maar daar word na maniere gekyk om die opwekkingskapasiteit verder uit te brei.

“Ons verwelkom daarom ook die (onlangse) aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa wat die private sektor toelaat om tot 100 MW op te wek sodat dit die druk op Eskom kan verlig.”

Meer oor:  Eskom  |  David Mabuza  |  Solly Tshitangano  |  Jan Oberholzer  |  Julius Malema  |  Nasionale Vergadering  |  Kaapstad  |  Ras  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.