Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mogoeng: 'Ek verwag nie boere moet grond weggee'

Boere is van die vrygewigste mense waarmee hoofregter Mogoeng Mogoeng al te doen gekry het, maar hy verwag nie boere moet hul grond gratis weggee nie.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng tydens sy profiel-onderhoud vandeesweek by die konstitusionele hof in Johannesburg. Foto: Simon Sonnekus

Mogoeng het vandeesweek in ’n profielonderhoud met Netwerk24 self die grondkwessie aangeroer.

Mogoeng is ’n regter in die konstitusionele hof in Johannesburg en kan daarom nie kommentaar lewer oor of art. 25 van die Grondwet gewysig moet word of nie*. “Kom ons laat dit oor aan die algemene publiek en politici,” het hy uitdruklik gesê. Hy het egter wel sy persoonlike mening gegee oor hoe die grondkwessie kan uitspeel.

Verkoop grond teen verminderde prys

Mogoeng vertel van ’n gesprek tussen hom en die president van ’n Namibiese landbou-organisasie in Augustus verlede jaar.

“Hy het gesê as wit boere in Namibië het hulle vrede gemaak dat indien hulle ’n blywende oplossing vir die (grond)probleem wil vind, dit tyd is om saam met hul swart broers te sit . . . dis tyd om te deel,” sê Mogoeng.

’n Boer met ’n plaas van 1 000 ha behoort nie grond weg te gee nie. “Jy kan nie regtig betekenisvol boer op ’n plaas kleiner as 1 000 ha nie, behalwe as dit ’n saaiboerdery is. Maar daar is mense van wie ek weet met plase van 25 000 of 40 000 ha. So wat stel ek voor? Dat hulle dit net so moet weggee? Nee.”

Mogoeng stel eerder voor boere nader die regering en sê: “Hier is die regte waarde van grond. Ons gaan nie ons grond vir julle gratis gee nie, maar ons wil hê julle moet dit koop, want ons weet dis ’n probleem wat hierdie volk sal laat ontvlam. En omdat ons nie ook ’n Zimbabwe-, Venezuela- of Kuba-situasie wil hê nie, gaan ons ons grond as ’n aanbod beskikbaar stel – ’n aanbod, want die prys sal verlaag word.”

’n Wit boer het ook jare gelede, “die jare wat ek nie geld gehad het nie”, vir Mogoeng grond teen ’n appel en ’n ei aangebied, maar hy kon dit steeds nie bekostig nie.

“So, bied ’n deel van jou plaas aan, kry geld, maar help ten minste om die grondhonger daarbuite aan te spreek.”

Regter Mogoeng reken nie boere behoort hule grond “gratis” weg te gee nie. Foto: Simon Sonnekus

Kundigheid en ’n passie vir landbou

Hy meen wit boere, “met hul kundigheid”, moet mense identifiseer wat kan boer. Volgens Mogoeng is dit een ding vir mense om grond te besit, “maar dit sal nooit ooit Suid-Afrika bevoordeel as mense sonder ’n passie om te boer landbougrond gegee word nie”.

Benewens passie is kritieke vaardighede wat nie oorgedra is nie een rede waarom sommige plase wat voorheen vrugbaar was, nou braak lê.

Die hoofregter sê dit help nie net jy het jou “stukkie grond” nie. “Wat weet jy van dié ‘stukkie grond’?”

‘Bring landbouskole terug’

Volgens Mogoeng moet landbouskole teruggebring word. “Jy moet ook die vak landbou al op laerskoolvlak inbring. Ons is op daardie vroeë ouderdom geleer hoe om grond en vee te bestuur en is selfs aangemoedig om te plant en groentetuine by die skool te kweek,” sê hy.

Mogoeng het in ’n klein dorpie, Goo-Mokgatlha (Koffiekraal), in Noordwes grootgeword.

Regter Mogoengsê “wit boere met kundigheid” en “swart aspirantboere” kan die grondkwessie saam oplos.Foto: Simon Sonnekus

Herstel ongeregtigheid

Slegs ’n kombinasie van “wit boere met kundigheid” en “swart aspirantboere” wat saamwerk, kan die grondkwessie oplos, sê hy.

“Ons het nie uitbarstings in die openbaar nodig nie. Ons moet kan sit en oor die grondkwessie praat, hoe moeilik en frustrerend dit ook al is.”

Mogoeng sê hy verneem van die hoof van ’n boerderyvereniging in KwaZulu-Natal dat die meeste vordering wat samewerking betref, in daardie provinsie gemaak is.

“Hy (die hoof van die vereniging) het gesê hulle het besef die verkryging van grond is oor jare heen deur ongeregtigheid gekenmerk. Dis nie ’n kwessie van hulle wat skuldig pleit op enigiets nie. Dis ’n kwessie oor of hulle, as wit boere in KZN, verantwoordelikheid aanvaar om ’n oplossing te help vind . . .”

* ’n Parlementêre ad hoc-komitee hanteer die wysiging van art. 25 van die Grondwet – die eiendomsklousule – om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.