Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mogoeng: ‘Vat mense vas wat regbank só ondermyn’

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het die polisie gevra om mense te ontmasker wat anoniem op sosiale media aantygings teen die Suid-Afrikaanse regbank maak.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: Leánne Stander

Dit volg ná onlangse inskrywings op sosialemediaplatforms waarin aantygings gemaak word wat die regbank ondermyn.

In een inskrywing is die name van regters bekend gemaak wat kwansuis omkoopgeld van die CR17-veldtog ontvang het. In ’n ander is beweer dat die Vrystaatse regbank gekaap is.

Daar is egter geen bewyse of besonderhede by die inskrywings ingesluit nie.

Mogoeng het Vrydag op ’n mediakonferensie in Midrand gesê dit is te vroeg om te sê of die aantygings as ’n aanval op die regbank bestempel kan word.

“Sonder bewyse, sal dit tog as ’n aanval op die regbank gesien word. Ek daag die mense uit om met tasbare bewyse en besonderhede na vore te kom,” sê Mogoeng.

“Die nasionale polisiekommissaris is gevra om die magte te ontmasker wat agter die aantygings sit. Net ’n vyand van ons demokrasie sal sulke aantygings maak en aanhou wegkruip.

“As beskermheer van ons demokrasie moet die regbank hoë etiese standaarde handhaaf,” sê Mogoeng.

Twee van die regters wat in minstens een van die inskrywings op sosiale media deurgeloop het, is regter Sulet Potterill en regter Letty Molopa-Sethosa, in wie se uitsprake Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, onlangs bloedneus gekry het. Albei regters se uitsprake was in pres. Cyril Ramaphosa se guns.

Ramaphosa en Mkhwebane het in die openbaar swaarde gekruis nadat sy verskeie bevindinge teen Ramaphosa gemaak het, en hom ook wou dwing om tugstappe teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, te neem.

Die EFF het hom sterk teen Potterill en Molopa-Sethosa se onderskeie beslissings uitgespreek.

Julius Malema, EFF-leier, het Potterill se gesag toe probeer ondermyn deur onder meer verwysings na haar velkleur te maak voor sy ondersteuners.

Malema is lid van die regterlike dienskomitee, maar Mogoeng sê Malema is nie aan hom verantwoordbaar nie.

“Malema is deur die parlement ontplooi en daarom moet die parlement hom oor sy uitlatings aanspreek,” sê hy.

“Ek veroordeel neerhalende aanmerkings teen regters, veral vroueregters, ongeag deur wie dit gemaak word.”

Volgens Mogoeng was hy genoop om die mediakonferensie te roep omdat dit belangrik is dat die publiek vertroue in die regbank moet hê.

“Deur te reageer, gee ons suurstof aan die aantygings, maar deur stil te bly, dink mense ons probeer iets wegsteek.”

Meer oor:  Hoofregter Mogoeng Mogoeng  |  Politiek  |  Anoniem  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.