Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Geen kommentaar!' ná Mokgoro bevind Jiba, Mrwebi nie geskik vir hul pos

Die prokureur van Nomgcobo Jiba, geskorste nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, wou nie kommentaar lewer oor die Mokgoro-verslag, wat aanbeveel dat sy kliënt afgedank word nie.

“Ek kan bevestig dat die president sowat twee weke gelede vir ons ‘n afskrif van die verslag gestuur het en versoek het dat ons kliënt geskrewe vertoë rig voordat hy sy finale besluit oor die verslag self kan maak,” het Zola Majavu aan News24 gesê.

Jiba en Lawrence Mrwebi van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is nie geskik om in hul pos aan te bly nie, het die Mokgoro-kommissie van ondersoek bevind.

Oudregter Yvonne Mokgoro het haar verslag van haar ondersoek na die twee advokate begin April aan pres. Cyril Ramaphosa gegee.

Mokgoro beveel in haar verslag aan dat Ramaphosa Jiba ontslaan uit haar pos as nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolgings, asook Mrwebi uit sy pos as spesiale direkteur van openbare vervolgings.

Afgetrede regter Yvonne Mokgoro. Foto: Sarel van der Walt

Jiba en Mrwebi is in Oktober 2018 geskors nadat Ramaphosa Mokgoro aangestel het om te ondersoek of hulle vir hul pos geskik is.

Die twee advokate is deur Ramaphosa gevra om vertoë tot hom te rig nadat hy die verslag ontvang het.

EWN berig die verslag se hoofbevindinge is dat hul integriteit onder verdenking is, hul leierskap swak is, dat hulle oneerlik is en dat hulle nie daarin kon slaag om hoë standaarde van professionele etiek, verantwoordbaarheid en deursigtigheid te handhaaf nie.

Volgens The Times lui die verslag: “In die lig van al die getuienis en in die lig van die evaluering, bevind ons dat Jiba en Mrwebi nie geskik is om in hul pos te dien nie.”

Luidens die verslag was Jiba se gedrag in verskeie gevalle nie “pligsgetrou” nie, terwyl Mrwebi nie sonder partydigheid teenoor die NVG kon optree nie.

Mokgoro het Jiba se rol in die vervolging van Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, ondersoek, haar rol in die spioenasiebande-saak en hul albei se rol in die terugtrek van klagtes teen Richard Mdluli, die omstrede voormalige hoof van misdaadintelligensie.

Daar is bevind Mrwebi se besluit om aanklagte van bedrog teen Mdluli terug te trek, was teenstrydig met die NVG-wet en dat hy nie met integriteit opgetree het nie, berig Time Live.

Die appèlhof het in 2018 ’n besluit van die hooggeregshof in Pretoria uitgegooi dat Jiba en Mrwebi van die rol vir advokate geskrap moet word.

Die algemene raad van die Suid-Afrikaanse Balie het toestemming gevra om teen die uitspraak te appelleer. Uitspraak in die saak is voorbehou. – News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.