Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mokgoro se nuwe komitee toon balans, meen ontleder

Noordwes se nuwe provinsiale uitvoerende raad toon “’n goeie balans tussen manlik en vroulik, ervaring en nuwelinge en bring ook jeug nader aan die politiek”.

Dis hoe Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, die samestelling van die raad beskryf wat dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, Dinsdag aangekondig het.

Desbo Mohono, LUR vir landbou in Noordwes, is een van net ’n paar LUR’e wat haar posisie behou. Hier is sy verlede week by dr. Job Mokgoro nadat hy in die provinsiale wetgewer tot premier herverkies is. Foto: Susan Cilliers

Hy het nie gras onder sy voete laat groei met dié aankondiging ’n dag ná sy inhuldiging as premier nie.

Mokgoro het Dinsdagmiddag in ’n mediaverklaring gesê daar was “wye gesprekvoering” oor wie die nuwe lede van die uitvoerende raad (LUR'e) gaan wees. Terwyl sommige LUR’e hul posisies behou, is ander na ander portefeuljes geskuif en party is met nuwe gesigte vervang.

Madoda Sambatha (gesondheid), Desbo Mohono (landbou en landelike ontwikkeling) en Oagile Saliva Molapisi (openbare werke en paaie) behou hul posisies.

Sello Lehari, wat tevore LUR vir onderwys was, is nou LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur. Wendy Matsemela, wat LUR vir finansies, ekonomie en sakeontwikkeling was, skuif in Lehari se plek in. Motlalepula Rosho, voorheen LUR vir plaaslike regering en menslike nedersettings, word nou LUR vir finansies.

Daar is vier nuwelinge in die PUK, naamlik Boitumelo Moiloa, Tsotso Tlhapi, Keneitswe Mosenogi en Gordon Kegakilwe.

Moiloa (maatskaplike ontwikkeling) is sedert 2014 lid van die provinsiale wetgewer in Noordwes. Tlhapi (kultuur, kuns, sport en ontspanning) het tevore in die ANC se jeugleierskapstrukture in Noordwes gedien. Mosenogi (ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme) was op die ANC se kandidatelys vir 2019 en Kegakilwe (samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake) is sedert 2014 ’n ANC-LP.

“Drie aanstellings is interessant,” het Venter Dinsdagmiddag gesê.

“Sambatha, wat onder Supra (Mahumapelo, omstrede voormalige premier) in onguns verkeer het, is terug en Lehari betaal waarskynlik die prys vir die Schweizer-juffrou (Elana Barkhuizen). Rosho is ’n vrou met politieke ambisie en sy sal beslis die taak kan verrig.”

Venter sê die meerderheid LUR’e is ANC-lede in die Ramaphosa-kamp, wat Mahumapelo (’n Zuma-man) se steun verwater.

Mokgoro het Dinsdag sy waarskuwing herhaal dat hy geen korrupsie, stroping van staatshulpbronne of wanbestuur sal duld nie.

“Die nuwe LUR'e het hulself reeds tot skoon regering en gehaltedienslewering verbind. Hulle is mense met integriteit en het die vermoë om dienslewering te verbeter. Hulle is nié in posisies van bevoorregting nie of daar om hulself te verryk nie, maar om te dien en ’n beter lewe (vir mense in die provinsie) te skep.”

Mokgoro sal waarskynlik net tot die provinsiale leierskapsverkiesing later vanjaar premier bly. Sy opvolger kan moontlik weer ’n nuwe raad kies.

Meer oor:  Job Mokgoro  |  Theo Vorster  |  Noordwes  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.