Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mokonyane se herontplooiing ’n duidelike teken
Nomvula Mokonyane is na die parlement herontplooi.Foto: DAILY SUN

Nomvula Mokonyane, beleërde uittredende minister van omgewingsake, se herontplooiing na die parlement is die duidelikste teken nóg dat bevlekte ANC-hooggeplaastes heel waarskynlik nie pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet sal haal nie.

Die ANC het Maandag ná ’n spesiale sitting van sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) in Kaapstad aangekondig dat Mokonyane en verskeie ander herontplooi sal word.

Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, het terselfdertyd ook aangekondig dat Job Mokgoro as premier van die politiek plofbare Noordwes-provinsie sal aanbly “om die provinsie te stabiliseer”.

Die ANC se volgende parlementêre leiers is ook Maandag bekend gestel.

Magashule is Maandag op ’n nuuskonferensie oor die NUK-besluite in die Garden Court Nelson Mandela Boulevard-hotel gevra of adj.pres. David Mabuza in Ramaphosa se nuwe kabinet sal aanbly.

“Ons kan niemand van enige posisie verseker nie. Dit is omdat die president, ná konsultasie met die ANC-alliansie, sal besluit wie in die kabinet moet dien. Niemand is geregtig op enige posisie nie,” het Magashule geantwoord.

Die Sunday Times het Sondag berig dat Mabuza glo nie meer aptyt het om terug te keer as adjunkpresident nie en dat hy ingevolge ’n ooreenkoms permanent in Luthuli-huis herontplooi sal word, terwyl Paul Mashatile, ANC-tesourier-generaal, glo sy plek as adjunkpresident kan oorneem.

Druk bou die afgelope ruk reeds binne en buite die ANC-alliansie op dat Ramaphosa nie ANC-leiers wat by staatskaping of korrupsie betrek word in sy nuwe kabinet aanstel nie.

Thandi Modise word speaker van die Nasionale Vergadering. Foto: DAILY SUN
Pres. Cyril Ramaphosa en die res van die ANC se topleierskap was Maandag in ’n vrolike luim tydens ’n spesiale NUK-vergadering in Kaapstad.Foto: LLEWELLYN PRINCE

Dit sluit mense in soos Mokonyane, Bathabile Dlamini, minister in die presidensie belas met vroue en leier van die ANC-vroueliga, en Malusi Gigaba, ’n voormalige minister. Dlamini en Gigaba het ook Maandag se NUK-vergadering bygewoon.

Volgens Magashule het die NUK Maandag aan Ramaphosa gesê hulle ondersteun aanstellings om “doeltreffende bestuur, dienslewering en inklusiewe groei te verbeter”.

Magashule het Maandag ook aangekondig dat Thandi Modise vir Baleka Mbete as speaker van die Nasionale Vergadering (NV) sal vervang.

Pemmy Majodina, NUK-lid van die Oos-Kaap, sal Jackson Mthembu as ANC-hoofsweep in die parlement vervang.

Daar word reeds wyd gespekuleer dat Mbete en Mthembu dalk as ministers in die nuwe Ramaphosa-kabinet herontplooi mag word.

Lechesa Tsenoli sal aanbly as adjunkspeaker en Doris Dlakude as adjunkhoofsweep.

Mokonyana sal die nuwe komiteevoorsitter in die NV wees. Sy vervang die ewe omstrede Cedrick Frolick, wat ook by beweerde Bosasa-korrupsie voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping betrek word.

Magashule het ook aangekondig dat Amos Masondo, ANC-LP en voormalige burgemeester van Johannesburg, Modise as voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies sal vervang.

Masondo se adjunk sal Sylvia Lucas, uittredende premier van die Noord-Kaap, wees.

Seiso Mohai, van die Vrystaat, is as ANC-hoofsweep en voorsitter van die parlementêre ANC-koukus benoem.

Die sowat 400 nuwe LP’s het hulle Maandag by die parlement aangemeld voor hulle Woensdag amptelik ingehuldig sal word.

Op ’n vraag oor hoe Mokonyane se herontplooiing geregverdig kan word, het Magashule gesê joernaliste moet “nie mense oordeel nie”.

Volgens hom hanteer die ANC se integriteitskomitee tans nog die beweringe teen Mokonyane en ander. “Hierdie is egter ’n kollektiewe besluit van die ANC.”

Volgens hom het die NUK Maandag ook ’n voorlopige verslag oor sy onlangse verkiesingsveldtog ontvang wat op ’n volgende vergadering ontleed sal word. “Die NUK is van mening dat die verkiesing vry en regverdig was en dat dit uitdrukking aan die demokratiese wil van die mense gegee het.”

Ramaphosa sal waarskynlik sy kabinet aankondig nadat hy Saterdag as staatshoof op Loftus Versfeld in Pretoria ingehuldig is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.