Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Molapo uit DA geskop

Die DA-lid van die Gautengse wetgewer wat Solly Msimanga, tussentydse DA-leier in dié provinsie, van beweerde seksuele teistering beskuldig, is Vrydag summier uit dié party geskop.

Nkele Molapo is ook haar werk in die wetgewer kwyt.

Nkele Molapo is uit die DA geskop. Foto: Facebook

Mike Moriarty, DA-voorsitter in Gauteng, het in ’n verklaring gesê dat Molapo se lidmaatskap weens die uitlek van vertroulike inligting ná ’n drie jaar lange regsproses om haar skuldig te bevind, en ’n appèl wat haar skuld bevestig, beëindig is.

“Die aangeleentheid is deur ’n regverdige proses van die DA se federale regskommissie verhoor, en nadat sy appèl aangeteken het, is haar skuld bevestig deur ’n appèlpaneel. Die sanksie wat opgelê is, is die onmiddellike beëindiging van haar partylidmaatskap, waarteen daar nou geen verdere interne appèlle is nie,” sê Moriarty.

“Dit beëindig ’n proses van drie jaar om aanspreeklikheid te soek vir dade wat Molapo in 2017 gepleeg het deur vertroulike inligting uit die DA Tshwane-regering aan ons teenstanders, die Economic Freedom Fighters, uit te lek,” sê hy.

Toe bewyse van die lekkasie aan Solly Msimanga, die destydse burgemeester van Tshwane, voorgelê is, is ’n saak teen Molapo deur hom by die DA se federale regskommissie aanhangig gemaak.

Molapo wou Vrydag nie enige kommentaar lewer oor die party se onmiddellike opheffing van haar lidmaatskap nie.

“Ek win regsadvies in en kan ongelukkig nie nou enige navrae oor die aangeleentheid beantwoord nie,” het sy aan Netwerk24 gesê.

Solly Msimanga, tussentydse DA-leier in die Gautengse wetgewer. Foto: Argief

Vroeër is berig dat Molapo Sondag die interne klag van seksuele teistering teen Msimanga, wat dit ten sterkste ontken, teruggetrek het.

Sy het Maandag egter ’n klag van seksuele teistering teen hom by die polisie ingedien.

“Dit het ongelukkig ’n al te gereelde praktyk geword vir diegene wat skuldig bevind word in interne DA-tugprosesse om vinnig teen die party te draai met teen bewerings om hul skuldigbevinding te vertroebel.

“Dit is ’n praktyk wat ons ten sterkste afkeur en ons hou aan om ’n beroep op skuldiges te doen om die uitslag te aanvaar sonder om die party uit weerwraak te wil beskadig.”

Moriarty sê die bewyse teen Molapo was baie sterk. “Boodskappe en skermgrepe van boodskappe wat gestuur en ontvang is, is aan die federale regskommissie voorgelê en dit het ’n waterdigte saak uitgemaak”.

“Die uitlek van vertroulike DA-inligting en politieke strategie aan die EFF was die oorsaak van groot onstabiliteit in ons koukus, regering en die Tshwane-metro. Molapo dra die skuld omdat sy taktiese politieke voordele aan die EFF gegee het wat ons werk in gedrang gebring het.”

Meer oor:  Nkele Molapo  |  Da  |  Solly Msimanga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.