Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Molefe erken band met Guptas; wys vinger na Cyril

Brian Molefe, wat van April 2015 tot November 2016 die uitvoerende hoof van Eskom was, het Vrydagoggend in sy getuienis voor die Zondo-kommissie losgetrek teen pres. Cyril Ramaphosa en hom daarvan beskuldig dat hy sy politieke mag misbruik het om die Optimum-myn te bevoordeel.

Ramaphosa het dié aantyging later die dag in ’n gesprek op die radiostasie 702 ontken en gesê Molefe se getuienis is onwaar. Hy het gesê dat hy nog voor die kommissie sal getuig om sy kant van die saak te stel.

“Dit is van alle waarheid ontbloot. Mense vertel stories om ander te beswadder. Ons moet met die feite werk,” het Ramaphosa gesê.

Buiten vir sy aantygings teen Ramaphosa het Molefe erken dat hy die Guptas geken en gesellighede in hul huis in Saxonwold, Johannesburg, bygewoon het. Hy het gesê hy sal dit erken en nie, soos wat nou die “mode” is, aanvoer dat hy hulle nie geken het nie.

Molefe oor Ramaphosa

Molefe het getuig dat hy sy aantygings teen Ramaphosa in sy beëdigde verklaring aan die kommissie gemaak het. Dit is nie die eerste keer dat hy dit noem nie, en hy verstaan nie hoekom die kommissie dit nie opvolg nie.

Volgens hom het die mynmaatskappy Glencore ’n 9,64%-belang van die Optimum-myn aan Ramaphosa gegee en hom die voorsitter van ’n nuwe maatskappy gemaak wat die myn gekoop het, wetende dat hy ’n politieke swaargewig en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee is. Die sukses van die maatskappy het daarvan afgehang dat ’n nuwe prys beding word waarteen Eskom steenkool van die myn sou aankoop. Dit moes van R150 tot R530 per ton verhoog word.

Ramaphosa was as adjunkpresident aan die hoof van ’n spesiale “oorlogskamer”, wat begin is om Eskom te ondersoek. Toe Molefe in 2015 as uitvoerende hoof by Eskom begin werk het, was Ramaphosa besig om sy aandele in die Optimum-myn te verkoop, maar die transaksie was nog nie finaal afgehandel nie.

“Ek vermoed daar was ’n konflik van belange,” voer Molefe aan.

Volgens hom was Ramaphosa in werklikheid die voorsitter van Eskom en hy het die “gladdebek” Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings aangestel. Openbare ondernemings misluk en daar is ’n poging om dit aan die private sektor te verkoop, het Molefe getuig.

Molefe oor die Guptas

Hy het getuig hy ken al drie die Gupta-broers en het die meeste met Ajay Gupta kontak gehad.

“Ek was verskeie kere by hul huis. Ek het familie- en private gesellighede bygewoon. Ek sal nie sê dat ek hulle nie geken het soos wat nou die mode is nie. Dit was nie verkeerd om by hulle aan huis te kuier nie en daar is geen rede om hulle as melaats te beskou nie,” het hy getuig.

Molefe het ontken dat die Guptas die mag gehad het om oor sy loopbaan te besluit. “Ek kan onder eed sê daar is nie ’n Gupta-broer wat oor my loopbaan besluit het nie.”

Só was Lynne Brown glo betrokke

Volgens Molefe was hy by Transnet baie gefrustreerd met beurtkrag.

Lynne Brown, in daardie stadium die minister van openbare ondernemings, het hom op ’n geselligheid gevra of hy na Eskom sal skuif as sy hom sou vra. Hy het “ja” geantwoord.

’n Paar dae later het Brown hom gebel en gesê die skuif “het begin”.

Lees ook: Ramaphosa ontken Molefe se bewerings

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Zondo-Kommissie  |  Guptas  |  Brian Molefe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.