Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Molefe ‘gee R78 m. ekstra’ vir Regiments Capital

Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, het dit glo goedgedink om ’n ekstra betaling van R78 miljoen aan Regiments Capital, ’n Gupta-verwante konsultasiemaatskappy, goed te keur sonder om vas te stel of die maatskappy die geld verdien het.

Molefe het Dinsdag ’n tweede dag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig oor sy tyd as uitvoerende hoof van Transnet.

Volgens hom het hy nie geweet die helfte van die betaling gaan aan Salim Essa, ’n meeloper van die Guptas, nie.

Brian Molefe getuig Dinsdag verder voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Molefe beweer Anoj Singh, toe finansiële hoof, het vir hom ’n aanbeveling gestuur om dit goed te keur. Die motivering was dat Regiments glo so goed presteer het in sy onderhandelings om 1 064 lokomotiewe vir Transnet te verkry dat Transnet R2,8 miljard bespaar het.

“Ek het gedink ’n besparing van R2,8 miljard is nogal nie sleg nie, ouens,” het hy getuig.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, het aan Molefe uitgewys daar is getuienis dat daar nooit ’n besparing van R2,8 miljard was nie. Boonop het Regiments geen werk gedoen nie, maar dit het die regte as raadgewer vir die kontrak by die konsultasiemaatskappy McKinsey oorgeneem.

Die ekstra “sukses-fooi” was volgens Molefe nie omdat hy Regiments se naam gesien het nie, maar gedink het aan die besparing van R2,8 miljard, soos deur Singh in ’n memorandum aan hom uiteengesit is.

Jy kan nie aanvoer ek het geweet die geld is vir geldwassery nie.

Molefe het gesê die inligting oor die betaling wat in getuienis voor die kommissie uitgekom het, was nie inligting wat hy tot sy beskikking gehad het toe hy die betaling op 17 April 2014 goedgekeur het nie.

“Ek wil net herhaal, ek het Essa nie geken nie,” het Molefe getuig.

Myburgh het dit aan hom gestel dat Essa die Guptas se “luitenant van geldwassery” was.

“Jy kan nie aanvoer ek het geweet die geld is vir geldwassery nie,” het Molefe hierop geantwoord. “My getuienis is dat ek nie geweet het nie.”

Myburgh het vir Molefe gesê dat Thomas Edwards, voormalige groephoof vir verkryging by Eskom, in ’n memorandum sy kommer oor die betaling uitgespreek het en dat hy nie daarmee saamstem nie – dit is ’n bestaande kontrak met die verskaffer van lokomotiewe en die verskaffer het volgens die kontrak ’n diens gelewer. Daar was geen rede dat Regiments ’n ekstra konsultasiefooi moes kry nie.

Molefe het geantwoord indien hy destyds dié memorandum gesien het, sou hy dalk anders besluit het.

Op ’n verdere stelling van Myburgh dat ’n ondersoek gewys het daar was geen besparing nie, het Molefe geantwoord: “Dis vir my nuus.”

Molefe se getuienis duur voort.

Meer oor:  Regiments Capital  |  Brian Molefe  |  Betaling  |  Maatskappy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.