Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Molefe het glo eiehandig kontrak tot R54 mjd. verhoog

Brian Molefe, voormalige Transnet-hoof, het eiehandig ’n kontrak vir die verkryging van lokomotiewe van R38 miljard tot R54 miljard verhoog sonder om Transnet-kundiges daaroor te raadpleeg.

Dít is van die getuienis wat Mohammed Mahomedy, waarnemende hoof van Transnet, Woensdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer het.

Mahomedy het getuig Molefe het dié uitermatige verhoging van meer as R15 miljard op ’n memorandum aan die Transnet-raad aangekondig en die Transnet-raad gevra om dit goed te keur. Geen bestuursvergaderings is gehou of ’n besluit deur kundiges binne Transnet hieroor geneem nie.

Mohammed Mahomedy, waarnemende hoof van Transnet.Foto: Argief

Molefe noem in die memorandum van die redes vir die verhoging van R15 miljard sluit in onvoorsiene verhogings in kostes sedert die sakeplan vir die verkryging van die lokomotiewe opgestel is tot die verkryging daarvan.

Die regte interne proses is nie gevolg voordat Molefe die verhoging en redes daarvoor aan die Transnet-raad in sy memorandum gestel het nie. “Dit was heeltemal ongewoon,” het Mahomedy getuig.

Hy verwys ook na die datums betrokke en sê die ooreenkoms is op 17 Maart 2014 aangegaan, maar Molefe het die memorandum hieroor eers in Mei 2014 uitgereik.

Dit is ’n ex post facto-besluit, want Transnet het klaar die ooreenkoms aangegaan, het Mahomedy getuig.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie wat staatskaping ondersoek, het gevra of dit dalk so gedoen is om enige ongemaklike vrae vanuit die bestuurskorps van Transnet te vermy.

Mahomedy sê daar moes iewers kommer gewees het dat indien die besluit om die kontrak met R15 miljard te verhoog deur die regte bestuursproses sou moes gaan, dit rooi ligte sou laat flikker het.

Mahomedy het getuig die Transnet-bestuur sou ongetwyfeld nie saamgestem het nie. Die bestuur sou vra of die finansiële modelle vir die projek aangepas is.

“Hierdie memorandum was nie ’n aangepaste sakeplan nie, dit was net ’n besluit,” het Mahomedy gesê.

Hy het getuig oor Transnet se ooreenkoms met China South Rail (CSR) om uiteindelik 359 van die 1 064 lokomotiewe te voorsien. Hy het gesê daar is ’n brief waarin genoem word dat Molefe met CSR onderhandel het toe die tender reeds gesluit was.

Hy het die brief as bewysstuk by die kommissie ingedien en gesê dit is onbehoorlik dat onderhandelinge oor ’n tender agter die skerms plaasvind.

Mahomedy het ook getuig oor Transnet se gebruik van die konsultasiemaatskappy Trillian, en later die Regiment-maatskappy, as raadgewers om banklenings te verkry waarmee die lokomotiewe betaal is.

Volgens ’n dokument wat opgespoor is, is in November 2015 glo R82 miljoen aan Trillian betaal.

Mahomedy het getuig die onderhandeling sou suksesvol met die China-ontwikkelingsbank gedoen kon word met die kundiges binne Transnet en dat dit nie nodig was om raadgewers van buite daarvoor te kry nie.

Mahomedy het gesê die sindikasieproses van ’n lening is nie ’n komplekse struktuur nie, dit is iets wat finansiële amptenare in Transnet se tesourie-afdeling gereeld doen. Dit was nie nodig om dié werk uit te kontrakteer nie, het hy gesê.

Mahomedy het getuig geen bewyse kan egter gekry word dat Trillian enige werk vir die R82 miljoen gedoen het nie.

Hy het ook getuig in Desember 2012 is ’n kontrak van R35,2 miljoen met die internasionale konsultasiemaatskappy McKinsey aangegaan vir onder meer die ontwikkeling van ’n sakeplan, asook die ooreenkomste vir die finansiering van die lokomotiewe-projek.

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet, het die ooreenkoms namens Transnet onderteken.

Mahomedy het gesê Regiments, wat nie deel was van die oorspronklike ooreenkoms nie, is later by die kontrak betrek. Dit het die oorspronklike McKinsey-konsortium fundamenteel verander.

Mahomedy het gesê wat oorspronklik ’n R35 miljoen-kontrak met McKinsey sou wees, is verhoog tot ’n R289 miljoen-kontrak met Regiment.

Een van die bedrae is R166 miljoen wat aan Regiment betaal is omdat dié maatskappy met die China-ontwikkelingsbank suksesvol vir ’n lening onderhandel het.

Mahomedy het getuig die onderhandeling sou suksesvol met die China-ontwikkelingsbank gedoen kon word met die kundiges binne Transnet en dat dit nie nodig was om raadgewers van buite daarvoor te kry nie.

Die Zondo-kommissie gaan Donderdag voort met Mahomedy se getuienis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.