Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Molefe voor Zondo: ‘Ramaphosa wás Optimum-voorsitter’

Pres. Cyril Ramaphosa is volgens die JSE op 26 Maart 2012 wél as ’n nie-uitvoerende direksielid en voorsitter van die maatskappy Optimum Coal Holdings aangestel.

Brian Molefe het dié plofbare inligting Woensdagoggend voor die Zondo-kommissie se ondersoek oor moontlike staatskaping van Eskom bekend gemaak, na aanleiding van inligting van die JSE.

Brian Molefe getuig Woensdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het gesê hy het Dinsdagaand op die JSE se inligtingsdiens, die Stock Exchange News Service (Sens), gaan seker maak waar die inligting vandaan kom dat Ramaphosa die voorsitter van Optimum Coal Holdings was.

Molefe vra die kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, om Ramaphosa se betrokkenheid, tesame met die Glencore-mynmaatskappy, by die Optimum-myn te ondersoek.

Hy voer aan Ramaphosa se politieke status kon dalk as ’n sleutel-onderhandelingstrategie gebruik word om Eskom destyds te dwing om duurder te betaal vir die steenkool wat deur die Optimum-myn gelewer is.

Dinsdag is ’n verklaring van Clinton Ephron, voormalige uitvoerende hoof van Glencore se steenkoolafdeling in Suid-Afrika en ook die direkteur van die Optimum Coal Mine- en Optimum Coal Holdings-maatskappy, by die kommissie ingedien.

Hierin ontken Ephron dat Ramaphosa ooit die voorsitter van die Optimum-direksie was.

Molefe het na aanleiding van Ephron se verklaring teruggekap en getuig die aankondiging oor Ramaphosa se voorsitterskap is op 26 Maart 2012 gepubliseer en die dag daarna is dié nuus in drie publikasies in berigte uitgewys.

“Na my mening is daar genoeg bewyse dat Ramaphosa die voorsitter was,” het Molefe getuig.

Hy het uitgewys Ephron se verklaring is nié ’n beëdigde verklaring nie.

“Dit is gerieflik . . . dit is baie vreemd.”

Die Sens-aankondiging oor pres. Cyril Ramaphosa se aanstelling as voorsitter van Optimum Coal Holdings. Foto: Sens
Die Sens-aankondiging oor pres. Cyril Ramaphosa se aanstelling as voorsitter van Optimum Coal Holdings. Foto: Sens

Ephron se verklaring is Dinsdag deur adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, aan Molefe voorgelees sodat hy daarop kon kommentaar lewer.

Seleka het aangevoer dat Ephron op 11 Februarie vanjaar ’n verklaring afgelê en gesê het Ramaphosa was nie betrokke by die dag-tot-dag-bestuur van die Optimum Coal Mine of Optimum Coal Holdings nie.

Intussen het Seleka Woensdag, ’n dag later, erken Ephron se verklaring is nie beëdig nie en hy het gesê die kommissie onderneem om Ephron te vra om dit as ’n beëdigde verklaring in te dien.

Molefe wou weet of Ramaphosa al aangedui het of hy hom gaan kruisondervra. Hierop het Seleka geantwoord die kommissie het ’n afskrif van Molefe se beëdigde verklaring aan Ramaphosa gestuur en hy het aangedui dat hy eers gaan wag totdat Molefe klaar getuig het voordat hy geskrewe antwoorde sal stuur op die bewerings.

Kragtens die regulasies van die kommissie het ’n persoon wat deur ’n getuie geïmpliseer word 14 dae om aan te dui of hulle die getuie wil kruisondervra.

Indien die 14 dae reeds verstryk het, kan die persoon ’n spesiale aansoek bring om kruisondervraging toe te laat.

Molefe het uitgewys die kennisgewing is op 14 Januarie gestuur, so Ramaphosa sal dus nou spesiaal moet aansoek doen indien hy hom wil kruisondervra.

Meer oor:  Staatskaping  |  Ramaphosa  |  Molefe  |  Politiek  |  Optimum  |  Zondo  |  Eskom  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.