Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Moodey se vertrek sal DA veral in Jhb kós’
John Moodey, Gautengse leier van die DA, wat Woensdagoggend uit die party bedank het.Foto: Elizabeth Sejake

Die bedanking van John Moodey uit die DA is ’n groot terugslag vir die DA in Gauteng en veral Johannesburg omdat hy oor die jare heen ’n groot rol gespeel het om veral bruin en Indiër-kiesers in dié stad na die party te lok.

Op nasionale vlak kan Moodey se uitlatings oor Helen Zille, ’n vorige DA-leier en huidige voorsitter van die party se federale raad, die DA skade berokken.

Dit is omdat dit die siening onder baie Suid-Afrikaners versterk dat die DA sy rigting verloor en dat Zille basies die een is wat die beleid en rigting van die DA bepaal, sê dr. Sithembile Mbete, ’n politieke ontleder van die Universiteit van Pretoria.

Moodey, die Gautengse leier van die DA, het Woensdagoggend aangekondig dat hy uit die party bedank omdat hy ontevrede is met die rigting waarin die DA beweeg.

“Sy besluit sal veral in Gauteng ’n baie negatiewe invloed op die DA hê omdat hy die laaste 20 jaar as ’n DA-aktivis en -organiseerder ’n groot rol gespeel het om die party se ondersteunersbasis te laat uitbrei, veral onder bruin en Indiër-kiesers,” sê Mbete.

“Dit was belangrike gemeenskappe vir die DA om in 2016 te kon wen. Sy werwingsukses onder die gemeenskappe van Eldorado Park, Lenasia en ander plekke wat tradisioneel sterk ANC-vestings was, was in 2011 al te sien.

“Die DA sal Moodey se vermoë om in nie-wit-gemeenskappe in Gauteng te organiseer en te mobiliseer beslis mis.”

Mbete dink die kans is goed dat Moodey hom in die toekoms by Herman Mashaba se nuwe Action SA-party kan aansluit.

Mashaba, die vorige DA-burgemeester van Johannesburg, het verlede jaar uit die DA bedank – onder meer weens ongelukkigheid met Zille se aanwysing as die DA se federale voorsitter.

Op pad na Mashaba se Action SA?

Moodey self het Woensdag ná sy aankondiging gesê sy politieke toekoms is onseker, maar hy sal voortgaan om hom te beywer vir ’n beter Suid-Afrika “wat almal toekom”.

Mbete sê as daar nog nie ’n ooreenkoms tussen Moodey en Mashaba se party is nie, kan verwag word Mashaba sal Moodey probeer naderhark omdat dit sy doel is om Johannesburg volgende jaar (met die plaaslike verkiesing) regstreeks te verower.

’n Ander politieke ontleder, dr. Ralph Mathekga, stem saam dat Moodey se vertrek ’n slag vir die DA is omdat hy ’n belangrike skakel in die party se strategie was om in Gauteng te groei.

Hy sê die DA behoort bekommerd te wees. “ ’n Mens moet dit sien binne die konteks van Herman Mashaba en Mmusi Maimane (die vorige DA-leier) wat ook verlede jaar uit die DA bedank het.

“Wanneer leiers soos dié ’n party verlaat, neem hulle steun weg by die DA.

“Dit kan nou ook meebring dat baie mense sal begin sê die DA verteenwoordig nie dit wat hy sê hy doen nie. Dit behoort te DA te pla,” sê Mathekga.

‘DA is meer bekommerd oor Schweizer as swart stemme’

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê die DA se probleem is dat “hy alles moontlik doen om Schweizer-Reneke (in Noordwes) terug te wen eerder as om die swart steun wat hy met verlede jaar se algemene verkiesing verloor het terug te lok.

“Jy kan Moodey van opportunisme en allerlei dinge beskuldig en vra hoekom het hy so lank stilgebly, maar die feit bly staan hy sê iets wat baie ander mense sê.

“En dit is dat net sowat ’n derde van die DA se lede wit is, maar die res van die meerderheid het baie min sê oor die identiteit van die party, waarheen die DA op pad is, wat sy beleid moet wees en hoe die toekoms lyk.

“Dit is ook insiggewend wat hy oor Helen Zille gesê het. Dit gaan nie net oor wat sy gesê het nie, dit gaan oor die identiteit wat sy aan die party gee,” sê Croucamp.

Alida Kok, politieke ontleder van Akademia, meen ook Moodey se bedanking is ’n “slegte hou” vir die DA.

Sy sê daar kan met redelike sekerheid verwag word Moodey is op pad na Mashaba se Action SA.

“Ek dink nou die impak van Mashaba en Action SA sal beduidend op die DA wees.

“Dit is egter nog moeilik om te sê hoe sterk Action SA in Pretoria sal wees. Ek dink hy sal eerder ’n faktor in Johannesburg wees,” sê Kok.

Zille wou nie kommentaar lewer nie, terwyl John Steenhuisen, die party se tussentydse leier, Netwerk24 verwys het na die DA se verklaring oor Moodey se bedanking.

Die party sê onder meer Moodey se bedanking is “jammer en onnodig” en hy glo hy is steeds die enigste party wat die ANC kan onttroon.

Die ANC-koukus in die Gautengse provinsiale wetgewer sê hy verwag al hoe meer swart en bruin DA-lede sal in groot getalle bedank “terwyl madam Zille en haar kabaal” voortgaan om alle Afrikane uit dié “wit, neoliberale party” te suiwer.

* Solly Mismanga, voorsitter van die DA in die Gautengse wetgewer en vorige burgemeetser van die Tshwane-metro, is intussen as waarnemende Gautengse leier aangewys, het die DA Woensdagaand in 'n verklaring bekend gemaak.

Meer oor:  John Moodey  |  Johannesburg  |  Verkiesing  |  Da  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.