Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Moordkomplot' bring donker wolk oor DA in Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse DA-leier, Bonginkosi Madikizela, het die party tot Woensdagaand gegee om uitsluitsel te gee oor die aantygings dat hy glo sy mededinger om die partyleierskap in die provinsie wou laat vermoor.

Madikizela ontken ten sterkste dat hy Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, wou laat vermoor.

Hy sê die aantygings is deel van ’n smeerveldtog teen hom en hy het die party tot Woensdagaand gegee, waarna hy oor sy pad vorentoe sal besluit.

Madikizela het regsadvies ingewin oor die aantygings en beoog om ’n lastersaak aanhangig te maak.

eÚI
Bonginkosi Madikizela, huidige leier van die DA in die Wes-Kaap. Foto: Gallo Images

’n Donker wolk hang oor die DA se provinsiale kongres wat Saterdag gehou word nadat die gerugte dat Madikizela glo agter die beweerde moordkomplot sit al sowat ’n maand lank die ronde doen.

“Ek gaan beslis ’n lastersaak teen Mnqasela aanhangig maak,” sê Madikizela.

DA-lede sê bewerings oor ’n moordkomplot het op die lappe gekom toe ’n fluitjieblaser beweer het dat mense in die Kaapse onderwêreld glo op ’n vergadering gepraat het oor hoe om van Madikizela se mededinger “ontslae” te raak.

Partylede met noue bande met die partyleierskap sê volgens hul inligting is daar geen bewyse van ’n komplot nie.

“Die sogenaamde fluitjieblaser was glo nie eens deel van die vergadering nie,” sê een van dié DA-lede.

Partylede sê die DA het reeds verskeie kere oor die aangeleentheid vergader en daar word steeds vir uitsluitsel gewag.

“Ons het Woensdag vroeg reeds ’n aankondiging verwag, maar almal is doodstil. Niemand weet wat Fedex (die DA se federale uitvoerende raad) besluit het nie,” het ’n ander lid gesê.

Volgens partylede in die metro wat anoniem wil bly, krap die DA kop oor hoe om die situasie op te los.

Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, en ’n kandidaat vir die pos as leier van die DA in die provinsie. Die provinsiale DA kies die naweek sy nuwe leiers. Foto: Edrea Du Toit

Sommige DA-lede wil hê die provinsiale kongres moet uitgestel word, ander wil hê dit moet soos beplan voortgaan, maar sonder dat die provinsiale leiers verkies word.

Ander kla weer dat ’n uitstel die indruk sal skep dat daar waarheid in die aantygings steek en dat daar geen uitstel moet wees nie.

“As die leierskapverkiesing tot ’n latere datum uitgestel word, kan mense die stories glo en kan een van die kandidate sonder bewyse benadeel word,” het ’n ondersteuner van Madikizela gesê.

Mnqasela, wat reeds voorheen om kommentaar gevra is, kon steeds nie vir kommentaar bereik word nie. Sy ondersteuners meen egter hy sal die naweek stof in Madikizela se oë skop.

“Die aantygings word nie uit die duim gesuig nie, daar steek waarheid daarin,” het een ondersteuner gesê.

Helen Zille, DA-voorsitter van die federale raad, het nie Woensdag navrae beantwoord nie, maar het vroeër gesê die aantygings word deur die party se federale regskommissie ondersoek, wat ’n verslag oor hul bevindings sal voorlê.

So ’n verslag is egter nog nie bekend nie.

Meer oor:  Da  |  Bonginkosi Madikizela  |  Masizole Mnqasela  |  Moordkomplot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.