Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mosie teen Cyril: Pleidooi vir geheime stemming verwerp

Nóg ’n pleidooi van die African Transformation Movement (ATM) dat LP’s in die geheim vir of teen die komende mosie van wantroue in pres. Cyril Ramaphosa moet stem, het op dowe ore geval.

Dit volg nadat Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), Dinsdag gesê het dat sy nog ’n versoek van dié party van die hand gewys het.

Die ATM neem die besluit egter nie ligtelik op nie en maak gereed om die hof te nader om die parlement te dwing om toe te laat dat LP’s Donderdagmiddag in die geheim vir of teen die mosie stem.

Op ’n vraag oor wanneer presies die party hof toe gaan, het Vuyolwethu Zungula, ATM-president, Dinsdag gesê: “Ons is soos ons praat tans besig om die hofdokumente met die prokureurs op te stel”.

Intussen het Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, Dinsdag gesê dat Modise in haar besluit die grondwetlike noodsaak van deursigtigheid, openheid en openbare deelname in ag geneem het, sowel as dat sy moet verseker dat LP’s hul funksies sonder intimidasie of swaarkry kan uitvoer.

“Die konstitusionele hof het in 2017 aangedui dat ’n geheime stemmery nodig is waar die heersende atmosfeer toksies of hoogs spannend is.

“Die ATM het nie enige bewyse gelewer van ’n hoogs gespanne atmosfeer, intimidasie of enige demonstreerbare bewyse van dreigemente teen die lewe van LP’s of hul families, wat ’n geheime stemming regverdig nie.”

Die konstitusionele hof het in 2017 aangedui dat ’n geheime stemmery nodig is waar die heersende atmosfeer toksies of hoogs spannend is.

Hy het verder aangevoer dat dit ook Modise se mening is dat LP’s as openbare verteenwoordigers nie veronderstel is om altyd onder ’n sluier van geheimhouding op te tree nie.

“Oorwegings van deursigtigheid en openheid vereis, soos die konstitusionele hof aangevoer het, soms ’n vertoon van dapperheid en onverskrokkenheid om die beste belange van LP’s in die NV te bevorder, ongeag die gevolge, insluitende die risiko van ontslag vir nie-voldoening aan party-instruksies.”

Modise het ook aangevoer dat ’n geheime stemming onder die huidige virtuele of hibriede sittings van die NV weens Covid-19 ook onprakties is.

Intussen het die ATM se regsverteenwoordigers Maandag in ’n prokureursbrief aan Modise geskryf dat sy ’n “oordeelsfout” begaan het deur ’n geheime stemming te weier.

Die ATM voer in die prokureursbrief aan dat die mosie “van ’n ernstige aard” is en dat so ’n stemmery “individuele bewustheid” van LP’s vereis wat net deur ’n geheime stemming kan gebeur.

Thandi Modise Foto: City Press

“Vryheid en regverdigheid” sal bereik word met ’n geheime stemming, word aangevoer.

“Ons benadruk dat die politieke atmosfeer nou is soos wat dit was tydens die mosie van wantroue deur die UDM in 2017 wat tot die konstitusionele hof se uitspraak rakende die kwessie gelei het.

“Ons is ingelig dat die (oop) stemprosedures in parlementêre sittings gebeur waar die hoofsweep van individuele partye daartydens opstaan om namens alle individuele LP’s in sy of haar party te stem.

“Indien hierdie meganisme gebruik word, sal dit nie die wenslikheid van ’n individuele stemmery bereik nie,” het die ATM aangevoer.

Die party het Modise tot die einde van die dag Maandag gegee om haar versoek te heroorweeg.

Meer oor:  Thandi Modise  |  Cyril Ramaphosa  |  Atm  |  Mosie Van Wantroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.