Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mosies van wantroue Makhura se voorland
David Makhura, premier van Gauteng, tydens die nuuskonferensie wat hy Woensdag ná die eerste sitting van die Gautengse wetgewer gehou het.Foto: Felix Dlangamandla

David Makhura, wat Woensdag verkies is tot premier van Gauteng, moet hom in sy termyn van vyf jaar regmaak vir ’n “stortvloed van mosies van wantroue”.

Dié waarskuwing is Woensdag aan Makhura, die ANC se premierskandidaat, gerig toe hy in die Gautengse wetgewer in Johannesburg beëdig is. Hy het die DA se Solly Msimanga net-net geklop vir dié posisie.

Makhura het 38 van die stemme op hom verenig, terwyl Msimanga net 32 stemme kon kry. Daar was twee bedorwe en een ongeldige stembrief.

Makhura het die verkiesing gewen ondanks die feit dat die DA en die EFF kragte saamgesnoer het in die stemming.

Msimanga het Makhura gewaarsku om homself reg te maak om die volgende vyf jaar ’n moeilike pad te loop.

“Hulle (die ANC) het ’n meerderheid van een, so dit is iets waaraan ons hulle heeltyd sal herinner. Daar gaan ’n stortvloed van mosies kom,” het hy gesê.

ANC-lede dans Woensdag in die Gautengse wetgewer. Die party se premierskandidaat is suksesvol verkies, ondanks die feit dat die EFF en die DA kragte saamgesnoer het om Solly Msimanga, die DA-kandidaat, verkies te kry. Foto: Felix Dlangamandla

In ander poste is Ntombi Mekgwe tot speaker verkies, Vuyo Manamela tot adjunkspeaker, Sizakele Nkosi- Malobane is aangewys as die voorsitter van voorsitters, en Mpapa Kanyane is verkies tot die adjunkvoorsitter van voorsitters. Almal is van die ANC.

Mzi Khumalo is verkies tot hoofsweep van die ANC, met Thoko Magagula as die adjunk.

Mandisa Mashego, die EFF se koukusleier in die wetgewer, het ná die sitting buite die wetgewer die ANC se oorwinning onderspeel. Mashego het gesê die DA en EFF is in gesprekke om ’n ooreenkoms oor magsdeling te sluit wat sal lei tot beheer oor twee metrorade in Gauteng.

Mashego het bevestig dat die EFF hulle in die premiersverkiesing agter Msimanga geskaar het.

Makhura het op sy beurt op ’n nuuskonferensie ná die sitting ’n hou na die EFF ingekry weens hul samewerking met die DA.

“Hulle (die EFF) het sáám met die mense gestem waarteen hulle ’n verkiesingsveldtog gevoer het. Hoeveel DA-plakkate het gesê die EFF is sleg, hou hulle buite saam met die ANC? Ons (die ANC) is baie voorspelbaar. Ons het nooit gesê ons sal met die EFF saamwerk nie. Ons het nooit gesê ons sal met die DA saamwerk nie,” het Makhura gesê.

  • Die ANC het in die verkiesing op 8 Mei net-net beheer behou van Gauteng, met ’n stempersentasie van 50,9%. Daardeur het die party 37 van die 73 setels in die wetgewer bekom. Dit is drie setels minder as na die verkiesing in 2014. Die DA, as amptelike opposisie, het 20 setels en die EFF 11. Die Vryheidsfront Plus het drie setels, terwyl die IVP en ACDP elk een setel het.
Meer oor:  David Makhura  |  Gauteng  |  Mosie Van Wantroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.