Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Motlanthe: Grondkwessie vereis dringende aandag
Oudpres. Kgalema MotlantheFoto: Emile Hendricks

Grond is dié kwessie wat “uiterste, indien nie dringende” aandag nie van die regering vereis, het oudpres. Kgalema Motlanthe gesê.

Hy het Dinsdag by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in Bellville gepraat, waar die jaarlikse byeenkoms vir reg in die openbare belang plaasvind.

Motlanthe, wat aan hoof van die hoëvlak-paneel van akademici en ander kundiges staan wat die impak van wetgewing sedert 1994 ondersoek, het opgemerk dat die

“emosionele kwessie” van grond op ál die sessies van die hoëvlakpaneel geopper is, wat landwyd plaasgevind het.

“Dit toon dat dit dié kwessie is wat uiterste, indien nie dringende aandag nie van die regering vereis.”

Die werkgroep wat met grond gemoeid was, beklemtoon volgens Motlanthe die grondwetlike verpligting wat op die parlement rus om wetgewing deur te voer wat gelyke toegang tot grond, verblyfsekerheid en restitusie of gelyke grondherstel sal verseker.

Onder die voorlopige bevindinge van die werkgroep tel:

* Restitusie het verstrengel geraak met die herverdeling van grond, wat in baie gevalle nie die voorgenome begunstigdes bevoordeel nie;

* Die herverdeling van grond het vir “alle praktiese doelwitte tot stilstand geknars” weens te veel onsamehangende beleid;

* Verblyfsekerheid bly ’n groot uitdaging in Suid-Afrika met plaasbewoners en werkers wat die ergste daaraan toe is ten opsigte van onwettige uitsettings; en

* Die gebrek aan verblyfsekerheid is ook ’n groot stryd vir diegene wat in informele gebiede woon.

Natuurlik as jy ’n gekaapte staat het, word die kwessie vererger.
Motlanthe

Hy het gesê dit is belangrik dat titelaktes aan mense uitgereik word. ’n Gebrek daaraan dra onder meer by daartoe dat mense nie aktief deelneem aan die ekonomie nie.

“Ons aanbeveling sal wees dat titelaktes aan mense uitgereik word. Dit sal nie beperk word tot die voormalige tuislande waarheen swart mense gedryf is nie, maar ’n oudit moet gedoen word oor wie watter deel van Suid-Afrika besit.”

Motlanthe het op ’n vraag oor die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne (MPRDA) gesê dit maak voorsiening vir gemeenskappe om oor die uitreiking van mynboulisensies geraadpleeg te word. Tradisionele leiers het egter in sommige gevalle die regte en voordele van die gemeenskap vir hulself toegeëien en gemeenskappe uitgesluit. Oplossings daarvoor sal in die paneel se verslag aan die hand gedoen word.

“Natuurlik as jy ’n gekaapte staat het, word die kwessie vererger deur daardie fenomeen omdat hulle nie omgee om die prosesse behoorlik te volg nie. Natuurlik weens die aard daarvan sal gevestigde, uitgesoekte mynmaatskappye met toegang tot finansiële kapitaal altyd voor in die ry wees.”

Voorts werk die bepaling vir bemagtiging ook nie doeltreffend nie, omdat die mense wat uiteindelik die bemagtigingsvennote is volgens Motlanthe nie noodwendig deel van die gemeenskap is waar die mynbedrywighede plaasvind nie. “Dit sal die mense wees wat politieke bande het – wie ook al in ’n posisie is om bevoordeel te word in daardie opsig. Dit is een van die aspekte wat ons glo aandag kan kry as wetgewing verstewig word tot voordeel van gemeenskappe.”

Meer oor:  Uwk  |  Kgalema Motlanthe  |  Bellville  |  Grondeise  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.