Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Motlanthe lei Zim-kommissie ná kies-geweld
Oudpres. Kgalema Motlanthe Foto: Argief

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe het Suid-Afrika se oudpres. Kgalema Motlanthe gevra om die kommissie van ondersoek te lei na die geweld ná verlede maand se verkiesing.

Sewe mense is in die geweldpleging op 1 Augustus dood.

Mnangagwa het die name van die sewe kommissielede Woensdagaand in ’n verklaring bekend gemaak.

Hy sê die kommissie sal onafhanklik wees en sy werksaamhede deursigtig. Daarom het hy plaaslike en internasionale kenners gevra om deel van die kommissie te wees.

Die geweld het gevolg nadat ongelukkige lede van die MDC-opposisie in die middestad van Harare, die hoofstad, begin betoog het. Hulle het gemeen daar is met die uitslag van die verkiesing geknoei.

Mnangagwa, wat in November verlede jaar ná oudpres. Robert Mugabe se bedanking president geword het, is uiteindelik die afgelope naweek as president ingehuldig nadat die Zimbabwiese konstitusionele hof die MDC se besware oor moontlike verkiesingsbedrog verwerp het.

Pres. Emmerson Mnangagwa Foto: Getty Images

Mnangagwa het kort ná die geweldpleging aangedui dat dit behoorlik ondersoek sal word.

Die ander lede van die kommissie is ’n afgetrede Tanzaniese generaal, Davis Mwamunyange, prof. Charity Manyeruke van die Universiteit van Zimbabwe, die Nigeriër Emeka Anyaoku, ’n voormalige sekretaris-generaal van die Statebond, die Britse advokaat Rodney Dixon QC, me. Vimbai Nyemba, ’n voormalige president van die Zimbabwiese prokureursorde, en prof. Lovemore Madhuku, ook van die Universiteit van Zimbabwe.

Die 69-jarige Motlanthe was vir sowat ses maande tussen September 2008 en Mei 2009 die Suid-Afrikaanse staatshoof nadat oudpres. Thabo Mbeki deur die ANC herroep is.

Motlanthe was president tot oudpres. Jacob Zuma, wat toe die ANC-leier was, ook die land se president geword het.

Motlanthe het onlangs ook die hoëvlak- parlementêre paneel gelei wat die regering se toepassing van grondhervorming ondersoek het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.