Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Motlanthe neem stigting se leisels ná beweringe

Oudpres. Kgalema Motlanthe sal op ’n dringende grondslag die leisels van die Nelson Mandela-stigting oorneem nadat die stigting deur beweringe van wanoptrede deur sy bestuur geruk is.

Luidens ’n verklaring wat die naweek uitgereik is, het die stigting se raad dié besluit geneem weens die negatiewe uitwerking wat die beweringe op die stigting se reputasie het.

Oudpres. Nelson Mandela is op 5 Desember 2013 dood. Foto: Shaun Harris

In die lig hiervan het Sello Hatang, uitvoerende hoof, en Limpho Monyamane, bedryfshoof, aansoek gedoen om hangende ’n ondersoek spesiale verlof te neem. Die onderskeie aansoeke is verlede week op een van twee spesiale raadsvergaderings goedgekeur.

Die beweringe teen die bestuur spruit uit ’n e-pos wat op 14 Desember deur ongeïdentifiseerde personeellede aan prof. Njabulo Ndebele, voorsitter van die Nelson Mandela-stigting, gestuur is.

Ndebele het Maandag by navraag gesê hy wil nie oor die besonderhede van die beweringe uitbrei nie omdat dit dalk die ondersoek kan belemmer.

Hy het bevestig dat die ondersoek deur die regsfirma Bowman Gilfillan uitgevoer word en dat ’n voorlopige verslag binne ’n week verwag word.

Luidens City Press word daar beweer dat Hatang en Monyamane hul mag en die stigting se kredietkaarte vir persoonlike redes misbruik het en dat hulle ’n rol in onreëlmatige aankope gespeel het.

Luidens die jongste verklaring van die stigting sal Motlanthe ’n tussentydse leierskapstruktuur lei om te verseker die daaglikse werkinge van die stigting verloop glad. Hy sal deur twee trustees, Alice Brown en Maya Makanjee, bygestaan word totdat die ondersoek voltooi is en die raad die bevindinge daarvan oorweeg het.

Kgalema Motlanthe Foto: Felix Dlangamandla

Luidens die jongste verklaring is daar kommer geopper dat sekere personeellede moontlik ongestaafde beweringe aan die media maak om die ondersoek te ondermyn. Die raad beskou die kommer as geregverdig en daarom vra hy dat ruimte gegun word sodat die ondersoek eers afgehandel word.

“Die raad het ’n beroep op Bowman en Gilfillan gedoen om sy proses sou gou as moontlik te voltooi sonder om die proses en die gehalte van die ondersoek te kompromitteer sodat daar klarigheid oor die erns van die bewerings wat gemaak is, gekry kan word.”

“Verder bly die raad diep daartoe verbind om die nalatenskap van Nelson Mandela en die naam van die stigting te bewaar en sal hy ook verseker dat hy in die beste belang van belangegroepe optree.”

Luidens die verklaring sal die raad in die komende dae met ’n aantal sleutelbelangegroepe kommunikeer sodat daar ’n volle begrip is oor die proses wat onderweg is en om die stappe te verduidelik wat gedoen is om die situasie te pak. Die raad het homself tot goeie regering, deursigtigheid en aanspreeklikheid herverbind.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.