Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Motsoeneng wil president word

Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, het sy oë op die presidensie gerig, berig ANA.

Motsoeneng, wat in Julie verlede jaar afgedank is, het Dinsdag ’n geleentheid van die Incredible Happenings-kerk toegespreek en gesê daar is baie foute wat hy sal regstel sodra hy in die warm sitplek in die Uniegebou is.

“Mense sê daar is nie geld in Suid-Afrika nie. Daar is. Ek het dit veral by die SAUK gesien. Toe ek gesê het plaaslike kunstenaars moet geld kry, is die meeste van die miljoene aan buitelanders gegee.

“Wanneer dit by ons eie mense kom, Suid-Afrikaners, kry julle net sente, maar buitestanders kry die geld.

“Dis tyd om dit stop te sit. Om dit stop te sit gaan Hlaudi die toekomstige president van Suid-Afrika wees. Dankie.”

Die konstitusionele hof in Johannesburg het Maandag beslis Motsoeneng is wél finansieel aanspreeklik vir die regskoste oor sy omstrede verbod op die uitsaai van betogings. Sy aansoek om verlof tot appèl is met koste van die hand gewys.

Hlaudi Motsoeneng Foto: Felix Dlangamandla

Sy destydse verbod op die uitsaai van betogings het daartoe gelei dat agt joernaliste onregmatig afgedank is.

“My siening is dat die konstitusionele hof die hoogste hof in die land is. Ek respekteer hul uitspraak en sal dit nakom. As ’n persoon met ambisie om die land te lei, moet ek ’n voorbeeld stel. Dit gaan nie oor my gevoelens nie. Dit gaan oor respek vir die hof,” het hy aan News24 gesê.

Motsoeneng het Dinsdag aan Thabiso Tema van PowerFM gesê hy is die enigste een wat die SAUK kan regruk.

“As ek vandag nog by die SAUK was, is daar geen manier dat daar afleggings sou wees nie. Ek weet hoe om ’n uitsaaier te bestuur.”

Volgens hom was daar geen finansiële krisis toe hy daar was nie. “Hlaudi is die beste persoon by die SAUK. Ek het gedoen wat ek kon om die werknemers te red. Toe ek die SAUK verlaat het, was daar geld in die bank.

“As jy nie die dier wat die SAUK genoem word, verstaan nie, weet jy nie hoe om by die werknemers aansluiting te vind nie. Niemand is teen ’n graad of ’n diploma nie, maar die mense wat nou daar is, weet niks. Hulle is nie in staat om die SAUK te red nie. In my tyd was die SAUK finansieel volhoubaar.”

Bykans ’n duisend permanente werknemers en meer as 1 200 vryskutwerkers kan hul werk verloor as die beplande afleggings by die SAUK voortgaan. Die uitsaaier het gewaarsku dat hy teen Maart volgende jaar nie meer salarisse sal kan betaal tensy hy personeellede afdank nie.

Vakbonde dreig met stakings oor die afleggings.

- News24 en Citizen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.