Tom Moyane, afgedankte kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), gaan na verwagting Maandag die kans kry om Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping onder kruisverhoor te neem.
Die kommissie het Sondag bevestig dat Moyane Gordhan sal ondervra nadat hy reeds verlede jaar daarvoor aansoek gedoen het.

Tom Moyane Foto: Deon Raath, Argief
Moyane se vrae sal beperk word tot die minister se bewering dat hy kwaadwillig opgetree het toe hy klagte teen Gordhan (toe hy minister van finansies was) by die Valke aanhangig gemaak het
Moyane het in 2016 strafregtelike klagte teen Gordhan met betrekking tot Ivan Pillay, voormalige SAID-kommissaris, se pensioenuitbetaling gelê. Die saak is later teruggetrek.
Gordhan het in sy getuienis voor die Zondo-kommissie aangevoer dat Moyane die regstelsel misbruik het en die klagte in kwaadwillige najaging van staatskaping aanhangig gemaak het.

Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings Foto: Lisa Hnatowicz, Argief
Moyane het teen hierdie getuienis kapsie gemaak en meen dit is “ongegrond” en “nie in die belang van geregtigheid nie”.
Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, was ontsteld toe Gordhan aandui dat hy weens kabinetsverpligtinge nie in Augustus voor die kommissie kon verskyn nie.
Die gereelde vertragings het Zondo frustreer. Hy het gesê niks is belangriker as om voor die kommissie te verskyn nie. Gordhan se kabinetspligte is sy werk, net soos wat enigiemand anders ’n werk het, en dit is dus nie belangriker as die kommissie nie.
• Die kommissie hoor ook vandag die getuienis van Athol Williams, ’n vennoot van BAIN SA, aan.