Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
MRK: Haatspraak-besluit oor Malema nie ligtelik geneem

Die Menseregtekommissie (MRK) het nie ligtelik tot die gevolgtrekking gekom dat Julius Malema nie haatspraak gepleeg het met sy vroeëre omstrede uitlatings oor wit mense nie.

Prof. Bongani Majola Foto: Daily Sun

Adv. André Gaum, MRK-kommissaris, het dít Woensdag aan LP’s gesê toe die kommissie voor die parlement verskyn het om verslag te doen oor sy prestasieplanne en jaarlikse begroting.

Die parlement het gehoor dat die MRK se begroting vir 2019-’20 tot R189,2 miljoen gesny is en dat dit ’n erge uitwerking op sy werksaamhede gaan hê.

Die komitee het ook gehoor hoe die MRK teen Augustus vanjaar ’n kommissie van ondersoek gaan saamstel om ondersoek in te stel na die menseregte-implikasies vir inwoners van bendegeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte, die Overberg en die Boland. Dié besluit is geneem nadat 14 mense in een naweek einde Junie weens bendegeweld op die Kaapse Vlakte doodgeskiet is en sowat 900 mense oor ’n baie langer tydperk in die gebied weens bendegeweld dood is.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vroeër ’n hersieningsaansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien nadat die MRK in Maart beslis het dat hoewel Malema se uitlatings onaanvaarbaar is, dit nie op haatspraak neerkom nie.

AfriForum het in 2016 ’n klag teen Malema by die MRK ingedien nadat hy op 7 November 2016 op ’n EFF-saamtrek in Newcastle, KwaZulu-Natal, gesê het: “Ons, die wettige eienaars, ons vrede is versteur deur die wit man se aankoms hier. Hulle het ’n swart volksmoord gepleeg. Hulle het ons mense doodgemaak tydens grondverskuiwings. Vandag word ons vertel ‘moenie hulle steur nie, al het hulle ons vrede versteur’.

“Hulle het vreedsame Afrikane hier gekry. Hulle het hulle doodgemaak! Hulle het hulle geslag soos diere!

Ons moet ’n menseregtekultuur in die land bevorder en ons het in ons verslag dit duidelik gemaak dat hoewel die uitspraak onaanvaarbaar is, dit nie op haatspraak neerkom nie.

“Ons vra nie vir die slagting van wit mense nie, ten minste nie nou nie. Wat ons vra, is vir die vreedsame besetting van grond. En ons skuld niemand ’n verskoning daarvoor nie.”

Die MRK het Woensdag aangedui dat hulle volgende week opponerende hofstukke teen die AfriForum-hersieningsaansoek sal indien.

Gaum het Woensdag hieroor gesê die MRK het die Malema-bevinding baie versigtig benader.

“Daar was verskeie klagtes in verskillende provinsies daaroor ingedien. Ons het eers ’n interne regsmening daarvoor aangevra. Ons was egter nie heeltemal tevrede daarmee nie en het toe ’n regsmening van een van die prominentste senior advokate in die land daaroor bekom.”

Volgens Gaum het dit tot die kommissie se bevinding gelei.

“Ons moet ’n menseregtekultuur in die land bevorder en ons het in ons verslag dit duidelik gemaak dat hoewel die uitspraak onaanvaarbaar is, dit nie op haatspraak neerkom nie.”

Prof. Bongani Majola, MRK-voorsitter, het ook aan die komitee gesê dat klagtes van ongelykheid en rassisme die oorgrote meerderheid van die sowat 10 000 klagte uitmaak wat jaarliks by die MRK aangemeld word.

Volgens hom is die erge vlakke van ongelykheid ná 25 jaar van demokrasie hoogs kommerwekkend omdat dit nie net ’n bedreiging vir ekonomiese en maatskaplike regte inhou nie.

“As dit nie getakel word nie, hou dit ’n wesenlike bedreiging vir ons grondwetlike demokrasie in. Ons kan dit nie meer ignoreer nie.”

Meer oor:  Julius Malema  |  Haatspraak  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.