Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
MRK sal haatspraak-klag teen Etzebeth indien
Eben EtzebethFoto: Argief

Die Menseregtekommissie (MRK) sal eersdaags ’n klag van haatspraak by die gelykheidshof indien teen die Springbok-slot Eben Etzebeth.

Maar niemand moet oorhaastig wees met ondersoeke nie en die hof moet besluit wat die waarheid is, het eerw. Chris Nissen van die MRK Sondag gesê.

Volgens Nissen sal die dokumente vandeesweek, sodra alle nodige verklarings bymekaargemaak is, ingehandig word.

“Ons moet nog verklarings kry by twee persone wat glo slagoffers was van ’n aanval by die seiljagklub in Langebaan,” sê Nissen.

“Ek moet ook nog ’n vergadering met die eienaar hê.”

Nissen sê daar is kort voor Etzebeth se vertrek na Japan ’n vergadering belê tussen die MRK, Etzebeth en sy prokureur.

Etzebeth ontken steeds alle klagte ten sterkste.

“Nou moet die feite getoets word in die hof. Dit wat ons gehoor het en op skrif gesien het, regverdig ’n saak in dié hof.”

Sammy Claassen, een van die klaers, is opgewonde dat die saak gemaak word en sê hy is bly namens die beweerde slagoffers van Langebaan. Lees ook hier. 

“My ma het altyd gesê die gereg het ’n lang arm,” sê hy.

My ma het altyd gesê die gereg het ’n lang arm.
Sammy Claassen, een van die klaers.

Intussen het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gelas dat verdere ondersoek nodig is ná die twee klagte van aanranding teen die Springbokslot.

Die ondersoekdossier is aan die ondersoekbeampte in die Weskus teruggegee met die opdrag dat dit verder ondersoek moet word.

Dit kom nadat die polisie vroeër vandeesmaand die dossier met verklarings oor die voorval aan die NVG oorhandig het sodat Etzebeth vervolg kan word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, sê die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging het nog nie besluit of Etzebeth strafregtelik vervolg sal word nie, omdat die ondersoek nog onvoltooid is.

Etzebeth het wel speelkans gekry in dié wedstryd wat die Bokke met 57-3 gewen het.

Die ondersoek word glo nou deur ’n ander ondersoekbeampte in die Weskus hanteer. Die rede vir die oordrag is onbekend.

Intussen was Etzebeth Saterdag aanvanklik op die bank in ’n wedstryd tussen die Springbokke en Namibië. Etzebeth het wel speelkans gekry in dié wedstryd wat die Bokke met 57-3 gewen het.

Die klagte teen Etzebeth spruit uit ’n voorval verlede maand waar Etzebeth en ’n groep mense wat saam met hom was na bewering twee mans aangerand en rassistiese aanmerkings teenoor hulle gemaak het.

Nissen sê ook Etzebeth se broer, Emile (30), is geïdentifiseer as ’n beweerde oortreder.

“Ons moet versigtig wees om die ondersoeke aan te jaag,” sê Nissen. “Ons verstaan mense wil vinnige optrede sien, maar die regstelsel moet sy loop neem. Dinge moet deeglik gedoen word sodat niemand kan omdraai en sê die besluit is te vinnig geneem nie.”

Nissen sê hulle sal heel waarskynlik die klag by die hooggeregshof in Kaapstad se gelykheidshof indien sodra al die verklarings verkry is.

Meer oor:  Eben Etzebeth  |  Haatspraak  |  Rassisme  |  Rugbyspeler  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.