Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
MRK verwelkom AfriForum se hersienings-aansoek

Die Menseregtekommissie verwelkom AfriForum se besluit om sy uitspraak dat Julius Malema, EFF-leier, hom nie aan haatspraak skuldig gemaak het nie, op hersiening te neem.

AfriForum het Woensdag ’n hersieningsaansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien, nadat prof. Bongani Majola, voorsitter van die MRK, in Maart beslis het dat hoewel Malema se uitlatings soos haatspraak klink, dit nie haatspraak is nie.

Prof. Bongani Majola. Foto: Daily Sun

AfriForum het in 2016 ’n klag teen Malema by die MRK ingedien nadat hy op 7 November 2016 op ’n EFF-saamtrek in Newcastle in KwaZulu-Natal gesê het: “Ons, die wettige eienaars, ons vrede is versteur deur die wit man se aankoms hier. Hulle het ’n swart volksmoord gepleeg. Hulle het ons mense doodgemaak tydens grondverskuiwings. Vandag word ons vertel ‘moenie hulle steur nie, al het hulle ons vrede versteur’.

“Hulle het vreedsame Afrikane hier gekry. Hulle het hulle doodgemaak! Hulle het hulle geslag soos diere!

“Ons vra nie vir die slagting van wit mense nie, ten minste nie nou nie. Wat ons vra, is vir die vreedsame besetting van grond. En ons skuld niemand ’n verskoning daarvoor nie.”

Die MRK het bevind dit is nie haatspraak nie.

Natasha Venter, veldtogbeampte van strategie en inhoud by AfriForum, sê hulle kan nie “toelaat dat individue met politieke mag, soos Malema, wegkom met rassistiese uitlatings nie”, dit is hoekom hulle die hersieningsaansoek by die hof ingedien het.

Gail Smith, woordvoerder van die MRK, sê die hof se mening in die hersieningsaansoek van AfriForum sal help om onduidelikhede in die Gelykheidswet op te klaar.

Dit is veral die deel van die Gelykheidswet wat oor haatspraak handel, soos hoe haatspraak gedefinieer en verstaan word, waarmee die hof sal kan help, sê Smith.

Dit is vervat in die Wet oor die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onregverdige Diskriminasie, wet nr. 4 van 2000.

“Die Menseregtekommissie respekteer die wet en sal die besluit van die hof oor die saak respekteer,” sê Smith.

Sy sê die MRK moedig mense aan hom hul regte te beskerm, en om deel te neem aan die demokratiese en regsprosesse soos in die Grondwet vervat.

“Ons grondwetlike demokrasie is gebou op die beginsel van openbare deelname en die MRK erken dat ’n aktiewe samelewing uiters noodsaaklik is om die doelwitte en waardes van die Grondwet uit te dra,” sê Smith.

Meer oor:  Menseregtekommissie (Mrk)  |  Afriforum  |  Julius Malema  |  Haatspraak  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.