Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
MRK vs. Eben: Regshoof self nou ondersoek

Die Menseregtekommissie (MRK) se besluit om sy nasionale hoof van regsdienste te ondersoek weens sy beweerde “problematiese uitlatings” in die Eben Etzebeth-aangeleentheid, kom ’n dag nadat die Afrikanerbond ’n amptelike klag daaroor ingedien het.

Buang Jones

Adv. André Gaum, MRK-kommissaris, het Dinsdagmiddag in die parlement aangekondig dat die MRK die openbare uitlatings van Buang Jones, sy hoof van regsdienste, onder die loep gaan neem.

Die MRK sal ook bepaal of Jones enigsins verder by die aangeleentheid betrokke moet wees. Hy mag ook nie meer met die media daaroor praat nie.

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, het Dinsdag gesê sy organisasie het Maandag ’n klagte oor Jones se uitlatings by die MRK ingedien omdat sy uitlatings “opruiend is en die bewerings van rassisme verder aanhits”.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP, wat die MRK op ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste Dinsdagmiddag ook van dubbele standaarde met die Etzebeth-kwessie beskuldig het, het ná die sitting in ’n verklaring gesê die MRK-ondersoek teen Jones regverdig sy party se kritiek dat die MRK bevooroordeeld in die Etzebeth-saak is.

Gaum, prof. Bongani Majola, MRK-voorsitter, en die res van die MRK-kommissarisse het Dinsdag voor die portefeuljekomitee verslag gedoen oor hul jaarverslag vir 2018-’19.

Werner Horn, DA-LP, het die MRK op die sitting ook daarvan beskuldig dat hulle oorywerig is met die Etzebeth-geval, maar doodstil is oor die ambassadeur Zindzi Mandela wat “wit mense verkragters en diewe” in ’n twiet genoem het.

Gaum het verder aan die komitee gesê die MRK het besluit om die Etzebeth-aangeleentheid na die gelykheidshof te verwys. Volgens hom is daar ’n “feitelike geskil” in die aangeleentheid en daarom moet die gelykheidshof toegelaat word om sy oordeel daaroor te vel.

Die Springbokslot Etzebeth word daarvan beskuldig dat hy en ’n groep ander mans in Augustus na bewering twee mans in Langebaan aangerand en die h-woord teenoor hulle gebruik het.

Jones het verlede week op ’n gemeenskapsvergadering op Langebaan onder meer gesê dat Etzebeth voorheen “met moord weggekom het” en dat die MRK “ ’n voorbeeld van hom wil maak”.

Volgens Gaum het die MRK Maandag besluit om Jones en sy beweerde uitlatings te ondersoek.

As ons swart mense ondersoek, word ons daarvan beskuldig dat ons agente van witmonopoliekapitaal is.

Hy het bygevoeg dat dit van deurslaggewende belang is dat die MRK gesien moet word dat hy sy grondwetlike mandaat van onafhanklikheid en onpartydig uitleef, terwyl hy te alle tye ook sonder vrees, begunstiging of vooroordeel moet optree.

Eerw. Chris Nissen, nog ’n MRK-kommissaris, het op sy beurt aan die komitee gesê hy hou vol dat Etzebeth onskuldig is totdat die teendeel bewys word.

Volgens hom moet die konteks waarin Jones sy beweerde uitlatings gemaak het, egter in ag geneem word en moet daar gewaak word dat die ondersoek teen hom nie in ’n “heksejag” ontaard nie. “Die proses moet deursigtig en geloofwaardig wees.”

Adv. Tseliso Thipanyane, die MRK se uitvoerende hoof, het gesê hy is ook bekommerd omdat daar altyd “hierdie reaksie” is as die MRK “sake teen wit mense ondersoek”.

“As ons swart mense ondersoek, word ons daarvan beskuldig dat ons agente van witmonopoliekapitaal is. Ons doen ons werk sonder vrees, begunstiging of vooroordeel. As ons verkeerd is, neem ons hof toe.”

Nomathemba Maseko-Jele, ANC-LP en lid van die portefeuljekomitee, het die MRK aangeraai om voort te gaan om sy werk sonder vrees en begunstigting te doen “veral omdat daar baie geraas gemaak word as die MRK wit mense ondersoek”.

“Moenie jul ondersoeke kies nie. Hanteer alle ondersoeke dieselfde. Ons sal julle dophou.”

Intussen het dr. Llewellyn Curlewis, regskenner aan die Universiteit van Pretoria, Dinsdag gesê die MRK moet versigtig wees om hom nie openlik oor die meriete van die saak uit te laat voordat ’n hof daarmee gehandel het nie. “Dit kan sy saak benadeel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.