Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
MRK wil EFF vasvat oor haatspraak op sosiale media

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) wil Julius Malema, EFF-leier, en sy party voor die gelykheidshof daag oor plasings in 2019 op sosiale media wat glo op haatspraak neerkom.

André Gaum, kommissaris van die MRK verantwoordelik vir onderwys en gelykheid, het Woensdag gesê hulle het in Augustus ’n aansoek in verband met die kwessie by die gelykheidshof ingedien.

EFF leader Julius Malema. Photo by Felix Dlangaman
Julius Malema. Foto: Felix Dlangamandla

Dit volg nadat Malema en die EFF in September 2019 ’n video met aanhalings deur oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe op Facebook en Twitter gedeel het.

Die stellings sluit in “Die enigste wit man wat jy kan vertrou, is ’n dooie wit man” en “ons party moet aanhou om vrees in die harte van die wit man, ons regte vyand, aan te wakker”.

Die MRK voer aan dat die stellings haatspraak teen ’n sekere rasgroep (wat in dié geval wit mense is) behels. Dit word verbied deur art. 10 van Wet op Gelykheid. Hulle voer ook aan dat die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie oortree is.

Daarom vra die MRK vir ’n hofbevel wat verklaar dat die inligting onbillike diskriminasie en haatspraak behels, en dat die publikasie daarvan op onbillike wyse diskrimineer.

Die MRK vra ook dat die hof Malema en die EFF beveel om die betrokke stellings van hul sosialemediaplatforms te verwyder en om binne 24 uur ’n onvoorwaardelike verskoning daaroor op al hul sosialemediaplatforms uit te reik.

Die hofdokumente is glo nog nie op die EFF beteken nie en dit is onduidelik of die party die aansoek sal teenstaan.

Vuyani Pambo, woordvoerder van die EFF, het nie Woensdagoggend op navrae reageer nie. Sy kommentaar sal bygewerk word as en wanneer dit ontvang word.

Ernst Roets, adjunkhoof van die burgerregteorganisasie AfriForum, het by navraag die MRK se optrede verwelkom. Hy wys daarop dat die MRK in die verlede kwaai standpunt ingeneem het teenoor wit mense wat haatspraak lewer en dat die MRK daarom ongeag ras konstant moet wees oor haatspraak.

“AfriForum beskou ook die stellings as haatspraak en dit is veral kommerwekkend omdat dit onderskryf word deur ’n politieke party wie se ondersteuners beïnvloedbaar is,” sê Roets.

Meer oor:  Menseregtekommissie (Mrk)  |  André Gaum  |  Sosiale Media  |  Haatspraak  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.