Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
MultiChoice wou TV-projek kaap, sê Carrim voor Zondo

Die ANC-politikus en voormalige minister van kommunikasie Yunus Carrim het Maandag in getuienis voor die Zondo-kommissie uitgevaar teen wat hy beskou as die kaping van die regering se projek om die toegangsbeheer van Suid-Afrika se televisiebedeling te verander.

Carrim, wat van Julie 2013 tot Mei 2014 die minister van kommunikasie was, het getuig MultiChoice het ’n rol gespeel in die regering se beleid oor die toegangsbeheer-projek vir televisie. Dit het behels die verandering van analoë na digitale televisie.

Carrim het gesê daar is selfs nou nog store met hope seinverwerkers wat net daarin lê en hy hoop dat die migrasieprojek weer aan die gang kan kom.

Die projek is teruggehou deur MultiChoice en Naspers, het Carrim beweer.

Carrim het verder beweer hy en Koos Bekker, voorsitter van Naspers, aan wie MultiChoice in daardie stadium behoort het, het ’n vergadering gehad waarin Bekker aan hom genoem het die tegnologie wat die regering wil instel met afsonderlike dekodeerders is uitgedien.

Met nuwe tegnologie is dit deel van televisiestelle.

Carrim
'n Voormalige minister van kommunikasie , Yunus Carrim, het Dinsdag voor die Zondokommissie getuig.

Carrim het getuig dat Bekker in ’n ander stadium aan hom gesê het die taal wat hy (Carrim) praat, is dié van e.tv.

Hy het getuig dat hy in een van hul ontmoetings op Bekker gevloek het. Hy het gesê hy het besef dit is nie die regte ding om so te vloek nie, maar Bekker het hom gefrustreer. Dit was toe Bekker herhaal het dat hy “die taal van e.tv” praat, volgens Carrim.

Carrim het onder meer getuig mededinging is nodig in verskeie sektore in Suid-Afrika – ook in die betaaltelevisiesektor.

Hy het aangevoer Naspers het die betaaltelevisiesektor oorheers, net soos die koerantwese.

Carrim het getuig die een ding wat hom ontstel, is dat aangevoer word hy is korrup in sy verhouding met e.tv.

Hy het gesê dit sal hom pas indien die kommissie kan ondersoek doen of hy enige geld van e.tv gekry het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het aan Carrim gevra of dit korrek is om te sê dat Carrim se interaksie met Bekker, Naspers en MultiChoice sy mening gevorm het dat dit (vir hulle) daaroor gegaan het om mededinging te blokkeer. Het hulle die mark oorheers en alles moontlik gedoen om mededinging te verhoed, het Zondo gevra.

Carrim het geantwoord dit is korrek.

Carrim se getuienis het ook gegaan oor die rol wat Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, gespeel het in ’n ooreenkoms met MultiChoice om die SAUK se argiewe vir vyf jaar oop te stel aan MultiChoice.

“Dit is historiese eiendom van die openbare uitsaaier en kan nie aan enigiemand oorhandig word nie,” het Carrim gesê.

* Naspers, tot in Maart 2019 die moedermaatskappy van MultiChoice, het nie spesifieke vrae oor Carrim se getuienis beantwoord nie.

Shamiela Letsoalo, Naspers se kommunikasiehoof, sê die maatskappy is wel deur die Zondo-kommissie in kennis gestel van die bewerings wat Carrim in sy beëdigde verklaring aan die kommissie gemaak het.

“Nadat ons die bewerings oorweeg het in die mate waarin Naspers genoem word, is die gevolgtrekking gemaak dat daar geen suggestie van onwettigheid aan Naspers toegeskryf word nie.

“Ons het die kommissie gevolglik in kennis gestel dat Naspers nie van plan is om sy regte uit te oefen om getuienis te lewer, getuies te roep of getuies in kruisverhoor te neem in reaksie op die kennisgewing wat van die kommissie ontvang is nie.”

Letsoalo sê Naspers het sy respek vir die kommissie en sy waardering vir die waardevolle werk wat die kommissie doen, oorgedra.

* MultiChoice het Dinsdag in ’n brief aan werknemers gesê hulle moenie hul aandag laat aflei deur die getuienis voor die Zondo-kommissie nie, berig News24.

Carrim se bewerings oor MultiChoice en sommige van sy ampsdraers is ongegrond. MultiChoice en sy ampsdraers ontken hierdie bewerings. Ons het die Zondo-kommissie ingelig dat ons sal reageer op hierdie bewerings teen ons en dat ons al ons regte voorbehou.

Joe Heshu, MultiChoice se uitvoerende groephoof vir korporatiewe sake, het in reaksie op die getuienis by die kommissie gesê: “MultiChoice neem kennis daarvan dat Yunus Carrim onder eed in sy voorlegging aan die Zondo-kommissie bevestig het dat hy nie kan getuig hy dra persoonlik kennis van enige bedrog of korrupsie betreffende SAUK/MultiChoice-ooreenkoms nie.

“Carrim se bewerings oor MultiChoice en sommige van sy ampsdraers is ongegrond. MultiChoice en sy ampsdraers ontken hierdie bewerings. Ons het die Zondo-kommissie ingelig dat ons sal reageer op hierdie bewerings teen ons en dat ons al ons regte voorbehou.”

* Netwerk24 is 'n publikasie van Media24, 'n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Yunus Carrim  |  Naspers  |  Multichoice
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.