Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Munisipale verkiesing: Nou moet datum bepaal word

Samesprekinge oor die presiese datum waarop die munisipale verkiesings later vanjaar gehou sal word, het amptelik begin.

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het Dinsdagaand in die parlement bevestig dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), en die kommissie is tans in gesprek daaroor.

Die Cogta-minister is vir die vasstel van die presiese datum verantwoordelik.

Dlamini-Zuma kon Dinsdagaand weens ander verpligtinge nie die sitting van die Cogta-portefeuljekomitee bywoon nie.

Die OVK en Dlamini-Zuma se departement het voor dié portefeuljekomitee verskyn om verslag te doen oor hul gereedheid vir vanjaar se munisipale verkiesings.

Mamabolo het aan LP’s gesê Dlamini-Zuma sal sodra hul samesprekinge afgehandel is “die land in haar vertroue neem en die datum aankondig”.

Hy het bygevoeg die Grondwet bepaal dat die termyn van munisipale rade vyf jaar lank is.

“Munisipale verkiesings moet binne 90 dae gehou word vandat die termyn verval het.”

Die OVK is volstoom besig met voorbereidings vir die verkiesing. Foto: Charles Pullen, Argief

Die huidige munisipale termyn verval op 4 Augustus vanjaar en die 90-dae-tydperk is op 1 November verby.

Mamabolo sê die getal munisipaliteite vir vanjaar se verkiesing bly onveranderd soos met die 2016- munisipale verkiesing.

Daar is tans agt metro’s, 205 plaaslike munisipaliteite en 44 distriksmunisipaliteite. Daar sal in totaal om 10 479 munisipale setels landwyd meegeding word.

Volgens Mamabolo het die Munisipale Afbakeningsraad reeds die lys van munisipale wyksgrense in September en Desember verlede jaar aan die OVK oorhandig en die kommissie is druk besig om dit op te dateer ter voorbereiding van die registrasietydperke.

Mamabolo het verder aan LP’s gesê dat sowat 24,6 miljoen kiesers op die kiesersrol teen 3 Maart vanjaar woonadresse by hul name gehad het wat hulle in staat sal stel om te kan stem.

Daar is volgens hom nog meer as 1,2 miljoen kiesers wat nie adresse by hul name het nie. Hy het egter bygevoeg dat spesiale voorsiening gemaak sal word dat sulke mense ook op stemdag sal kan stem.

Mamabolo sê die OVK is volstoom besig met voorbereiding vir die verkiesing. Hy het in Januarie vanjaar reeds begin om die sowat 58 000 verkiesingspersoneellede landwyd te werf en vir die komende registrasietydperke op te lei. ’n Bykomende 207 000 verkiesingspersoneellede sal ook vir die verkiesingsdag self gewerf en opgelei word.

Volgens Mamabolo sal die verkiesings onder streng Covid-19-maatreëls plaasvind vir verkiesingspersoneel en kiesers.

Hy sê die kiesersopkoms is weer een van die kernprobleme wat vir vanjaar se verkiesing voorsien word. Dit is omdat die kieseropkoms “ ’n belangrike deel van die geloofwaardigheid van verkiesings en die legitimiteit van verkose verteenwoordigers is”.

Volgens hom verwag die OVK egter dat 60% van kiesers vir vanjaar se munisipale verkiesings sal opdaag.

In 2016 was die kieseropkoms 58% en in 2011 was dit 57%.

Mamabolo sê nog ’n probleem is dat die OVK weens begrotingsbesnoeiings en die pandemie ook net geld vir een registrasienaweek het.

Meer oor:  Sy Mamabolo  |  Verkiesing  |  Politiek  |  Parlement  |  Ovk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.