Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Munisipaliteite boos oor hul nie Cyril se R20 mjd. ontvang

Munisipaliteite is erg ontevrede omdat hulle nie die volle R20 miljard gekry het wat pres. Cyril Ramaphosa aan hulle as Covid-19-hulverlening belowe het nie.

Thami Ngubane, lid van die Vereniging van Plaaslike Regerings (Salga) se nasionale uitvoerende komitee, het Donderdagmiddag aan die parlement se twee komitees oor toedelings gesê die president het openlik aangekondig dat munisipaliteite dié meevaller sou kry om die impak van die koronaviruspandemie op dié reeds sukkelende regeringsfeer te versag.

Salga en die Finansiële en Fiskale Kommissie (FFK) het Donderdag voor die komitees oor die aangepaste nasionale begroting verskyn.

“Tot ons verbasing sien ons nou dat net ’n bykomende R11 miljard aan munisipaliteite toegeken is. Dit is teenstrydig met wat die president belowe het. Daar is geen redes daarvoor aan ons gegee nie.”

Tot ons verbasing sien ons nou dat net ’n bykomende R11 miljard aan munisipaliteite toegeken is. Dit is teenstrydig met wat die president belowe het. Daar is geen redes daarvoor aan ons gegee nie.

Volgens Ngubane sal die uitstaande R9 miljard nou eerder kom uit bestaande voorwaardelike toelaes aan munisipaliteite vir water-, sanitasie- en openbarevervoerprojekte wat herprioritiseer sal word.

“Ons beroof nou vir Pieter om vir Paul te betaal. Wat gaan van Pieter word wat beroof is? Dit is geld wat reeds aan inwoners toegeken is wat nou teruggevat word. Dit is onregverdig. Projekte waarmee reeds begin is, moet nou gestaak word.”

LP’s wou egter weet wat Salga met die geld gaan doen, aangesien daar nie van enige ekstra geld aan munisipaliteite gepraat kan word sonder dat daar gepraat word oor die ouditeur-generaal (OG) se verdoemende ouditverslag oor hulle nie.

Sommige LP’s wou ook weet wat Salga doen om die tallose munisipaliteite van finansiële ineenstorting te red.

Vroeër is berig hoe Kimi Makwetu, die OG, die afgelope week sy diepe kommer uitgespreek het oor die munisipale ouditverslag.

Daarin word ’n ontstellende prentjie geskets van die meeste munisipaliteite wat deur hul skuld verswelg word en wat nie vir water en elektrisiteit kan betaal nie; van hoe hulle hul skuld onakkuraat en halfhartig invorder, en van hul ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes.

Net hul onreëlmatige uitgawes het R32,06 miljard beloop.

Ngubane het in reaksie gesê die OG se verslag wys daar is ernstige probleme by munisipaliteite. “Dit skep ’n sombere prentjie dat dinge uitmekaar val. Ons as Salga steek egter nie ons koppe in die sand daaroor nie en doen iets om dit situasie te beredder.”

Ons beroof nou vir Pieter om vir Paul te betaal. Wat gaan van Pieter word wat beroof is? Dit is geld wat reeds aan inwoners toegeken is wat nou teruggevat word. Dit is onregverdig. Projekte waarmee reeds begin is, moet nou gestaak word.

Hy sê Salga het ’n raamwerk ontwikkel en het reeds aan die skuldige burgemeesters en munisipale bestuurders geskryf ten einde strenger aanspreeklikheid en gevolgebestuur te eis.

Khomotso Letsatsi, hoof van munisipale finansies by Salga, het gesê munisipaliteite sal weens die Covid-19-pandemie en ’n daling in inkomste heel waarskynlik hul begrotings afwaarts moet aanpas.

Daarby skuld verbruikers munisipaliteite landwyd ook gesamentlik R181 miljard vir dienste.

Op hul beurt skuld munisipaliteite altesaam R36 miljard aan Eskom.

Letsatsi sê daar is ook tans onsekerheid oor 73 munisipaliteite se vermoë om as lopende sake voort te gaan. 14 munisipaliteite is reeds tegnies bankrot.

Intussen het prof. Daniel Plaatjies, voorsitter van FFK, aan die komitees gesê hoewel die stand van munisipaliteite ’n groot bron van kommer is, gaan dit niemand help om die munisipaliteite net voortdurend te veroordeel nie.

Hy meen die land moet eerder ’n gesprek hê oor waarom Eskom en ander sukkelende staatsentiteite altyd deur reddingsboeie of staatswaarborge gered word, maar nie munisipaliteite nie.

“Munisipaliteite is grondwetlike strukture. Maar daar word net heeltyd gesê dat Eskom te groot is om te misluk. Wat van die munisipaliteite? Eskom en munisipaliteite het albei historiese skuld wat ons mense nou moet betaal. En steeds veroordeel ons net munisipaliteite,” voer Plaatjies aan.

Meer oor:  Salga  |  Thami Ngubane  |  Koronavirus  |  Munisipaliteite  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.