Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Munisipaliteite se toekoms bra somber

Suid-Afrikaanse munisipaliteite sak al hoe verder weg in die moeras van swak finansiële bestuur.

Dié situasie kan net reggeruk word as die leiers van plaaslike owerhede die leiding neem om skoon administrasie te verseker, sê Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG).

Hy hoop veranderinge aan die Wet op die Ouditeur-generaal sal die OG meer magte gee om verantwoordbaarheid in die openbare sektor te verbeter.

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG), Woensdag op ’n mediakonferensie in Pretoria.Foto: Sarel van der Walt

Makwetu het Woensdag op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê net 18 munisipaliteite (8%) van die land se 257 munisipaliteite en 21 munisipale entiteite het in die boekjaar tot einde Junie 2018 skoon oudits ontvang.

Met die vorige oudit was dit 14%.

In die Wes-Kaap, waar 70% van munisipaliteite die vorige keer skoon oudits ontvang het, was dit dié keer net 40 van hulle beskore. “Daar was ’n verslapping van beheer in sommige munisipaliteite,” sê die OG.

Twaalf Wes-Kaapse munisipaliteite het skoon oudits ontvang.

In Gauteng kon slegs die Midvaal-munisipaliteit ’n skoon oudit kry. Dit is die vyfde keer wat dié DA-beheerde stadsraad dit kon vermag.

Die Oos-Kaap het twee munisipaliteite om mee te spog, terwyl KwaZulu-Natal, Mpumalanga, en die Noord-Kaap elk slegs een munisipaliteit met ’n skoon oudit het.

Die Vrystaat, Limpopo en Noordwes, waar die regering verlede jaar ingegryp en die provinsie onder administrasie geplaas het, was daar nie ’n enkele skoon oudit nie.

Die OG is baie krities oor Noordwes, die Vrystaat, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal, maar nie te negatief oor die Wes-Kaap en Gauteng nie.

Makwetu sê by die munisipaliteite met skoon oudits (waar die munisipaliteite aan al die wetlike vereistes vir finansiële verslaggewing voldoen) is daar stabiele leierskap, sterk beheer en doeltreffende regering.

Die finansiële situasie word deurlopend gemonitor en daar word dadelik opgetree wanneer ongerymdhede bespeur word.

Hulle tree proaktief op en wag nie vir die OG om probleme aan hulle uit te wys nie, sê hy.

Die OG sê in sy jaarverslag wat op die mediakonferensie bekend gestel is, net 22 munisipaliteite se oudits het ’n verbetering getoon, terwyl 63 s’n verswak het.

Die OG het ook bevind munisipaliteite het R907 miljoen opgedok vir raadgewers wat moes help met die opstel van hul finansiële state.

Makwetu sê ouditeurs van sy kantoor wat landwyd die oudits by munisipaliteite gedoen het, is gedreig wanneer hulle moeilike vrae oor finansiële state begin vra het.

Vyf provinsies het 18 munisipaliteite in die boekjaar, wat op 30 Junie 2018 ten einde geloop het, onder administrasie geplaas.

Onreëlmatige besteding het van R29,7 miljard tot R25,2 miljard afgeneem.

Makwetu sê wat hom veral bekommer, is dat munisipaliteite traag is om die voorstelle wat sy kantoor met elke oudit doen te maak werk.

In sommige gevalle word dit selfs geïgnoreer.

“Die gevolg is dat die finansiële bronne wat tot dié munisipaliteite se beskikking is, óf wanaangewend word, of daar kan nie behoorlik rekenskap gegee word

(oor hoe die geld bestee word) nie, soos wat die onderskeie wette oor openbare finansiële bestuur vereis word nie.

“Die meganisme van verantwoordbaarheid by munisipaliteite werk nie so goed soos dit moet nie.

“Die sentrale boodskap van dié verslag is omdat daar nie gehoor gegee geword aan OG-aanbevelings nie, gaan plaaslike regerings se verantwoordbaarheid vir

hul finansiële- en bestuursprestasie aanhou versleg,” sê Makwetu.

Altesame 34% van munisipaliteite se uitgawes het hul inkomste oortref.

Vyf provinsies het 18 munisipaliteite in die boekjaar, wat op 30 Junie 2018 ten einde geloop het, onder administrasie geplaas.

Dít is wat die ouditeur-generaal (OG) oor dié provinsies gesê het:

Oos-Kaap

In dié provinsie was daar meer agteruitgang as vooruitgang.

Die getal munisipaliteite wat ’n gekwalifiseerde oudit ontvang het, het van 39% tot 47% toegeneem.

Die finansiële situasie in die provinsie het verswak deurdat 76% van munisipaliteite hulp nodig het teenoor die 66% met die vorige oudit.

Van die 76% van munisipaliteite wat hulp nodig het, het 29% betekenisvolle “kontantvloei- en lewensvatbaarheid-uitdagings”, sê die OG.

Hy het munisipaliteite in die provinsie geloof dat hulle 96% van die hulptoelaes vir infrastruktuurontwikkeling bestee.

Gauteng

Die oudit in die Emfuleni-munisipaliteit in die Vaaldriehoek kon nie afgehandel word nie omdat die ouditproses om veiligheidsredes uitgestel moes word.

Die OG het Midvaal geluk gewens dat hy die vyfde keer ’n skoon oudit ontvang het.

Hy het munisipaliteite in die provinsie geloof dat hulle die laaste drie jaar ’n 100% ongekwalifiseerde finansiële mening ontvang het. Gauteng is boonop die enigste provinsie wat enige gekwalifiseerde of verwerpte menings ontvang het.

Tog het die gehalte van finansiële state in dié provinsie agteruitgegaan deurdat net 30% van die munisipaliteite finansiële state sonder wesenlike wanvoorstellings ingedien het.

KwaZulu-Natal

Die oudits het die tweede agtereenvolgende jaar in dié provinsie verswak na die verkiesing en aanstelling van die nuwe politieke en administratiewe leiers in die provinsie.

Nege munisipaliteite het agteruitgegaan, terwyl vyf verbeter het. Daar was boonop ’n beduidende afname in die getal munisipaliteite wat skoon oudits ontvang het. Slegs die Okhahlamba-plaaslike munisipaliteit (Bergville) het ’n skoon oudit ontvang. Die vorige keer het dié eer ses munisipaliteite in KwaZulu-Natal toegekom.

Die OG sê die leierskap in munisipaliteite was traag, óf het selfs nie eens gereageer op vroeë waarskuwings en aanbevelings van sy kantoor nie.

Belangrike interne beheermaatreëls is selfs geïgnoreer.

Daar was ook groot teenkanting, en selfs vyandigheid, teen die oudits.

Limpopo

Daar was ’n klein verbetering in die oudits van munisipaliteite met ’n netto-verbetering deur twee munisipaliteite. Ongelukkig was die verbetering konsultant-gedrewe en nie ’n poging deur die leierskap om die gebreke in interne beheermaatreëls op te los nie.

Die OG sê hy het munisipaliteite met die vorige oudit reeds gewaarsku hulle is te afhanklik van raadgewers. “Ons waarskuwings is nie ernstig opgeneem nie, met die gevolg dat die verbeteringe in die vorige oudit nie volhoubaar was nie.”

Die OG sê dit is belangrik dat die leiers in die provinsie ’n kultuur van verantwoordbaarheid kweek. Swak prestasie en oortredings moet glad nie verdra word nie.

Dit sal ook ’n positiewe uitwerking op dienslewering hê, lui die OG se verslag.

Mpumalanga

Dié provinsie kon nie voortbou op sy verbeterde oudits van die vorige jaar nie. Slegs een munisipaliteit in dié provinsie, die Gert Sibanda-distriksmunisipaliteit in Ermelo, het vanjaar ’n regmerkie van die OG ontvang.

Die vorige keer was daar nege munisipaliteite in Mpumalanga wat dit reggekry het.

Die vernaamste rede vir die agteruitgang in Mpumalanga is volgens die OG die tekort aan behoorlike en doeltreffende interne beheermaatreëls.

Die leiers op provinsiale en munisipale vlak het ook nie ag geslaan op die OG se waarskuwing met die vorige oudit dat hulle strenger moet optree teen onder meer die inwerkingstelling van gevolge vir oortreders nie.

Noordwes

Dié provinsie se afwaartse spiraal duur voort, sê die OG.

Nie ’n enkele munisipaliteit in Noordwes het ’n skoon oudit ontvang nie, sê die OG.

Die getal munisipaliteite wie se oudits deur die OG verwerp is, het van agt tot 13 gestyg.

Die oudits van sewe munisipaliteite het verswak, teenoor net twee wat verbeter het.

Die OG sê die oudits in Noordwes is die swakste sedert die boekjaar 2012-13.

“Dit is ’n duidelike aanduiding van die verslegtende verantwoordbaarheid, ’n blatante verwerping van ons boodskappe en aanbevelings, selfvoldaanheid en ’n gebrek aan verbintenis om sekere gebreke te pak, sowel as ’n gebrek aan politieke wil.”

Die OG sê die politieke onstabiliteit in Noordwes en die ingesteldheid van die politieke leiers het gelei tot ’n omgewing wat nie bevorderlik is vir verantwoordbaarheid, goeie regering en die gevolge daarvan nie.

*Die oudit in Noordwes was in die tydperk aan die einde van Supra Mahumapelo se termyn as premier van dié provinsie. Gewelddadige dienstebetogings het in dié tyd voorgekom.

Die regering het die provinsie onder administrasie geplaas. Mahumapelo het as premier bedank en is deur prof. Job Mokgoro vervang.

Wes-Kaap

Hoewel die Wes-Kaap steeds die grootste konsentrasie van munisipaliteite met skoon oudits is, het die getal van die vorige oudit van 70% tot 40% gedaal.

“Ons het ’n verval in beheer in sekere munisipaliteite in die provinsie waargeneem,” sê die OB.

Van die munisipaliteite het nie gehoor gegee aan sekere datums vir die indien van finansiële state vir oudits nie en het nie voldoen aan die spesifieke vereistes van verskaffing nie.

Die OG sê hy glo nie dit is ’n aanduiding van sistematiese ineenstorting van die stelsels van interne beheer nie. Die oudit moes egter die voorkoms daarvan aanmeld om oorgerustheid onder bestuur te voorkom.

Vrystaat

Die interne beheermaatreëls in plaaslike regering in dié provinsie het algeheel ineengestort omdat die politieke en administratiewe leierskap niks gedoen het om hul verantwoordbaarheid vir finansiële en prestasiebestuur te bevorder nie, sê die OG.

“Die leierskap het nie ons aanbevelings in werking gestel om stabiliteit te verseker en sekere sleutelposte te vul nie.

“Dit het gelei tot ’n beduidende verswakking in die munisipale oudits, dienslewering en finansiële gesondheid,” sê die OG.

Die verwagte vlak van oorsig het by die meeste munisipaliteite ontbreek en hy twyfel of die “politieke wil daar is om die regte ding om die regte rede te doen”.

Politieke inmenging was tot nadeel van goeie regering.

Die OG sê die finansiële krisis in die provinsie word ’n kritieke bron van kommer.

“Hoewel sommige munisipaliteite onder provinsiale ingryping geplaas is, was dit nie doeltreffend nie omdat dié munisipaliteite se finansiële volhoubaarheid nie verbeter het nie.”

Omdat die provinsiale leierskap geen stappe gedoen het om grondwetlike voorskrifte in werking te stel nie, het die finansiële posisie van munisipaliteite versleg tot skuld van R6,1 miljard teenoor die R4,8 miljard die vorige geldjaar, sê die OB in sy verslag.

Noord-Kaap

In dié provinsie het drie munisipaliteite gevorder van ongekwalifiseerde tot gekwalifiseerde oudits.

Twee munisipaliteite het van ’n gekwalifiseerde tot ’n geweierde ouditmening verswak.

Die algemene agteruitgang beteken dat die provinsie nie die afgelope twee jaar gehoor gegee het aan die OG se aanbevelings nie. Die aanbevelings het onder meer ingesluit dat burgemeesters, munisipale bestuurders en senior bestuurders mekaar en hul ondergeskiktes verantwoordbaar moet hou.

“Omdat dit nie gebeur nie, is bevindinge in baie gevalle jaar ná jaar dieselfde. Dit is ’n bewys dat verantwoordbaarheid vir finansiële en prestasiebestuur steeds versleg,” lui die verslag.

Noord-Kaap

In dié provinsie het drie munisipaliteite gevorder van ongekwalifiseerde tot gekwalifiseerde oudits.

Twee munisipaliteite het van ’n gekwalifiseerde tot ’n geweierde ouditmening verswak.

Die algemene agteruitgang beteken dat die provinsie nie die afgelope twee jaar gehoor gegee het aan die OG se aanbevelings nie. Die aanbevelings het onder meer ingesluit dat burgemeesters, munisipale bestuurders en senior bestuurders mekaar en hul ondergeskiktes verantwoordbaar moet hou.

“Omdat dit nie gebeur nie, is bevindinge in baie gevalle jaar ná jaar dieselfde. Dit is ’n bewys dat verantwoordbaarheid vir finansiële en prestasiebestuur steeds versleg,” lui die verslag.

Grafika24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.