Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Muthambi ‘wou net steel’

Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, wou tot elke prys steel.

Só het Phumla Williams, wat onder Muthambi waarnemende direkteur-generaal van die staat se inligtings-en-kommunikasiediens (GCIS) was, Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Faith MuthambiFoto: Jan Gerber

’n Dikwels emosionele Williams het getuig dat Muthambi haar (geestelik) gefolter het en dat sy as gevolg daarvan angsaanvalle gekry het.

Williams het aan die kommissie gesê dat Muthambi se optrede byna optrede teen die staat was.

Volgens Williams was Muthambi se optrede skynbaar ’n poging om die GCIS wanfunksioneel te laat lyk sodat daar vir hulp van buite die regering gekyk kon word.

Muthambi het Williams in 2016 gedemoveer van die pos as waarnemende DG tot adjunk-DG.

Williams het verduidelik dat Mu­thambi haar toe gedwing het om meer as R35 000 van haar salaris terug te betaal.

“Ek het nooit gedink dat mense in die regering dit sou doen nie. Ek is gemartel onder die apartheidsregering. Muthambi het dít aan my gedoen. Sy wou ten alle koste steel,” het Williams gesê.

Volgens Williams wou Muthambi onder meer die departement se verantwoordelikheid vir aankope (voorsieningsketting) onder haar beheer wegneem en in die hande laat beland van iemand wat gemanipuleer kon word.

Williams het verduidelik hoe Mu­thambi se optrede haar nagmerries laat terugkeer het van toe sy in die apartheidsjare deur die polisie in hegtenis geneem en gemartel is.

Phumla WilliamsFoto: Deaan Vivier

Sy het verduidelik dat sy in 1988 in Soweto in hegtenis geneem en in Piet Retief gemartel is omdat sy geweier het om haar ANC-kamerade se name te onthul.

’n Sigbaar emosionele Williams het vertel hoe die verbale en emosionele mishandeling haar uiteindelik op 31 Augustus 2016 vroeë aftrede laat vra het omdat haar gesondheid daaronder gely het.

“My suster moes in my huis kom intrek . . . Ek het begin om stewels en sleutels te hoor, soos wat ek gedurende my marteling gehoor het,” het Williams getuig.

“Ek het sulke paniekaanvalle gekry, selfs ’n kar se toeter het dit aan die gang gesit . . . ek moes medisyne kry. Min het ek gedink dit (ou wonde) sou weer oopgemaak word deur die mense wat hulself comrades noem.”

In ’n ander verwikkeling Maandag by die kommissie het Ajay Gupta formeel laat aansoek doen om Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, en Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, te kruisondervra oor hul bewerings dat hy ministersposte aan hulle aangebied het in ruil vir sakegunste.

Adv. Mike Hellens SC van Ajay Gupta se regspan het Maandag aan adjunkhoofregter Raymond Zondo gesê sy kliënt het aansoek gedoen om getuies te kruisondervra wat hom by bewerings van staatskaping betrek het.

Adv. Dawie Joubert SC, wat ook vir Ajay Gupta verteenwoordig, het gesê sy kliënt het ook vir Themba Maseko, voormalige hoof van die GCIS, in die visier.

Joubert, wat ook vir Duduzane Zuma en Rajesh en Tony Gupta verteenwoordig, het gesê hulle wil vir Jonas kruisondervra.

Zondo het gesê hy het ’n voorlegging van oudpres. Jacob Zuma se regspan ontvang dat hy “ ’n posisie” ingeneem het, maar hy het nie hieroor uitgewei nie. Al die aansoeke om toegelaat te word om getuies te kruisondervra sal Dinsdah aangehoor word.

Guptas skuld NOK R280 miljoen

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) is steeds in ’n hofgeding met die Guptas gewikkel om meer as R280 miljoen te verhaal wat nog uitstaande is op ’n lening aan die Gupta-beheerde Shiva Uranium.

Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het dié inligting in antwoord op ’n skriftelike vraag in die parlement van Patrick Atkinson, DA-LP, verstrek.

“Die R287 miljoen bestaan uit R37,5 miljoen se oorblywende kapitaal van die oorspronklike lening van R250 miljoen, sowel as die rente van R250 miljoen.

“Daar is tans ’n litigasieproses aan die gang”

Oakbay Resources het die R212 miljoen terugbetaal.

Patel het gesê hy het dié inligting gekry by Geoffrey Qhena, uitvoerende hoof van die NOK, wat Vrydag bedank het. – Llewellyn Prince

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.