Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘My besluite in nood lei tot dié korrupsie’ – CR

As enigiemand blameer moet word vir die noodbesluite wat tot grootskaalse korrupsie met persoonlike beskermende toerusting of Covid-19-tenders gelei het, moet dit hy wees, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Dit was sy antwoord gistermiddag in ’n mondelingse vrae-en-antwoordsessie in die Nasionale Raad van Provinsies nadat Tim Brauteseth, ’n DA-LP, dit aan hom gestel het dat die “rampspoedige besluit” van die na­sionale tesourie om normale aankoopprosedures kragtens die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) vir noodaankope te verslap, die deur “wawyd oop gelaat het vir korrupsie-hiënas om in te beweeg en na willekeur te vreet”.

“Dit het op jou wag gebeur, meneer die president. Kan jy met vertroue aan Suid-Afrikaners erken dat ’n massiewe fout deur jou regering tot die korrupsie gelei het,” het Brauteseth gevra.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - OCTOBER: President Cyril
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Gallo Images

Dit was nadat Ramaphosa reeds aan LP’s gesê die spesiale ondersoekeenheid en ander wetstoepassingsagentskappe ondersoek tans gesamentlik sowat 1 274 Covid-19-verwante tenders in 85 departemente op alle regeringsvlakke. Sowat 34 strafregtelike sake is reeds na die nasionale vervolgingsgesag verwys en 33 vir departementele tugverhore.

Die regering probeer ook om deur die Spesiale Tribunaal staatsgeld van sowat R223 miljoen weens van dié kontrakte te verhaal. Ook die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het teen einde September vanjaar reeds 307 sake ondersoek, waarin 139 maatskappye belasting van sowat R300 miljoen ten opsigte van Covid-19-tenders ontduik het.

Ramaphosa het in reaksie op Brauteseth se vraag gesê dit was nodig om die koronaviruspandemie as “absolute gesondheid-noodsituasie” te hanteer. Volgens hom is daar voor die besluit lank en hard in die kabinet, asook in politieke partye, gedebatteer oor of nood- of rampbestuurwetgewing daarvoor gebruik moes word.

“Ons het die Wet op Rampbestuur gekies wat daartoe gelei het dat die nasionale tesourie besluit het dat beskermende toerusting op ’n noodbasis gekoop moes word om veral mediese werkers te beskerm.”

Dit kon volgens hom net vinnig genoeg gebeur as die tesourie PFMA-regulasies tydelik opskort.

“As enigiemand blameer moet word, moet ek blameer word, want as president van die Republiek moes ek die rigting aandui in ’n baie gevaarlike situasie waarin baie van ons mense kon sterf. Ek het dit as ’n oorlogsituasie getipeer.

“En ja, besluite moes geneem word. Met daardie besluite was daar risiko’s waar bose en misdadige mense gapings gesien en ons uitgebuit het.”

Volgens Ramaphosa het sy regering die beste besluit moontlik geneem. Hy sê egter dat daar nou beslissend teen oortreders opgetree word en dat “ ’n lyn in die sand” teen korrupsie getrek is.

“Ons het lesse geleer wat daartoe sal lei dat sulke korrupsie nie weer plaasvind nie.”

Ramaphosa het gesê wetstoepassingsagentskappe moet nou toegelaat word om hul werk onafhanklik en sonder politieke inmenging te doen.

Oor die omstredenheid waarin van sy mees senior leiers in ’n lugmag-straler na Zimbabwe gevlieg het, het Ramaphosa gesê die ANC het die R105 000 terugbetaal wat die vlug glo gekos het. Hy het herhaal dat dit ’n “oordeelsfout” van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, was.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.