Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Myburgh: ‘Sisi nog betrokke by Ace se kapingsplanne’

Die Vrystaatse premier Sisi Ntombela is “absoluut nog steeds by staatskaping betrokke”, het Pieter-Louis Myburgh, skrywer van die boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture, in Bloemfontein gesê.

Myburgh het op ’n bekendstelling van sy boek op die Vrystaat Kunstefees gesê Ntombela se betrokkenheid by ’n tender by die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer duur steeds voort.

Pieter-Louis Myburgh, skrywer van die boek Gangster State, praat vroeër vanjaar by die Universiteit van die Vrystaat (UV) oor sy boek. Foto: André Damons

Hy het ook gesê in die maande sedert Magashule gedreig het om hom oor die boek te dagvaar, het hy nog nie ’n woord van hom gehoor nie.

Oor Ntombela het hy gesê ’n program om jong swart sakelui ’n hupstoot te gee, is gekaap deur Magashule en Ntombela, wat hom as premier opgevolg het, se kinders. Hulle sit in Johannesburg en het nie regtig ’n betrokkenheid by die Vrystaat se ekonomie nie.

“Hulle kry die kontrakte op ’n absolute onwettige wyse en raap dit weg van sakemanne wat dit eintlik nodig het. Sisi Ntombela is nie net van meet af polities ’n baie sterk bondgenoot van Magashule nie. Sy is ook betrokke by die finansiële element van staatskaping. Ek kan dit sonder twyfel sê. Die kontrak gaan aan. Van die kontrakte en werkprogramme wat in die boek verskyn gaan aan.”

Myburgh het gesê as ’n wetstoepassingsagentskap sy werk uiteindelik behoorlik begin doen, gaan hulle die kontantvloei vind wat na die ANC-lede se sakke toe gaan.

Hy het gesê die “gruwelike staatskapingsdriehoek, Jacob Zuma, Magashule en die Guptas het in die Vrystaat begin. Hulle het daardie “gemors” van ’n koerant The New Age wat deur die Guptas uitgegee is, in hope by staatsdepartemente in die Vrystaat afgegooi.

Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, saam met Ace Magashule, haar voorganger, tydens haar inhuldiging as premier verlede jaar.Foto: Mlungisi Louw

Die Vrystaat het die laboratorium vir staatskaping geword. Dit lyk of Ace en die Guptas eers in die Vrystaat geoefen het om staatskaping te bemeester. Sy bondgenote en lakeie in die departemente is die hoofde en finansiële hoofde. Dit is ’n absolute verlamming en kooptering van die staat se geldelike arm.

Op ’n stelling van Gert Coetzee, redakteur van Volksblad wat met hom die gesprek gevoer het, dat die Vrystaatse polisie ook gekaap is en dit was gedienstigheid, het Myburgh gesê dit is hoekom pres, Cyril Ramaphosa se idee van ’n “New Dawn” met ’n knippie sout geneem moet word.

“Die polisie se nasionale kommissaris genl. Khehla Sithole kom van die Vrystaat af. Hy is al iemand wat meer as een keer in Ace Magashule se netwerk geïmpliseer is. Hy lei nou die polisie. Wanneer daar sprake van ’n New Dawn en skoonmaak is, moet ons dit absoluut met die nodige kritiek bejeën en vrae vra.”

Myburgh het gesê Magashule het vir jare gery op die rug van die beweerde breë organiese steun in die ANC.

“Dit was absolute rampokkery en oëverblindery gewees. Hy het nie wye steun in die ANC in die provinsie gehad nie en ek pak dit uit in die boek na gelang van twee hofsake, eers in die konstitusionele hof in 2012 en toe die hooggeregshof in Bloemfontein. In absolute fyn besonderhede word beskryf hoe Ace met rampokkermetodes die sogenaamde steun en gewildheid in die ANC gekoop het.”

Myburgh het op ’n vraag of Ramaphosa “skoon” is, gesê almal het gehoop met sy oorname die bestuur van die land is uit die staatskapers en die “Zuma-lot” se hand, maar hy is “versigtig pessimisties”. Die Bosasa-skenking van R500 000 laat baie vrae oor hom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.