Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Myeni oortree bevel, blaker Mnr. X se naam uit

Dudu Myeni, oudvoorsitter van die SAL-direksie, het ’n bevel van adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie, oortree en die naam van ’n getuie wat slegs as Mnr. X bekend staan, tydens haar getuienis uitgebasuin.

“Wie is Mnr. X?” het Myeni gevra kort nadat adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier van die kommissie, aangedui het sy gaan nou vrae aan Myeni stel oor bewerings wat Mnr. X Februarie vanjaar in sy getuienis gemaak het.

Zondo het verduidelik Mnr. X se identiteit word beskerm en hy staan voor die kommissie slegs as Mnr. X bekend. Zondo het gesê hy het ’n bevel gemaak nadat hy dié aansoek van Mnr. X oorweeg het. Zondo het bevind daar is genoeg gronde daarvoor.

Dudu Myeni

Myeni het hierna gesê sy het die transkripsie gelees van Mnr. X se getuienis en dit is die persepsie van iemand wat na aan haar is.

“Sy kinders is my kinders. Daar lê geen waarde daarin om sy naam weg te steek nie,” het sy gesê.

Sy het hierna herhaaldelik ’n naam genoem.

Zondo het tevergeefs probeer om Myeni stil te maak.

Myeni het aangestoomroller, weer die naam genoem, en gesê dit is ’n eerlike man en iemand wat sy vir 25 jaar ken.

Zondo het haar weer onderbreek en gesê hy beheer die prosedure van die kommissie en hý het aan Myeni die geleentheid gegee om haar saak te stel. Zondo het gesê hy verdaag die sitting vir middagete en ’n besluit moet nou geneem word oor wat nou verder gedoen moet word ná wat Myeni pas aangevang het.

Hofmeyr het ná middagete gevra dat Zondo ’n besluit moet neem dat die kommissie ’n strafregtelike klag teen Myeni kan indien. Hofmeyr het gesê dat Zondo dit duidelik gemaak het hy het ’n bevel oor Mnr. X se identiteit gemaak. Myeni het ook aangedui dat sy die transkripsies gelees het, en daarin sou sy die besonderhede gesien het van die aansoek dat Mnr. X met geslote deure getuig het en dat hy vrees vir sy veiligheid en lewe. Myeni is ook in kennis gestel voordat Mnr. X sy getuienis in Februarie sou lewer, dat hy gaan aansoek doen dat sy identiteit beskerm word.

“Teen hierdie feitlike agtergrond het Myeni voortgegaan en sy naam vier keer genoem,” het Hofmeyr gesê.

Sy het gesê dit kom neer op doelbewuste obstruksie van die kommissie se werking.

Myeni se regsverteenwoordiger, adv. Nqabayethu Buthelezi, het gevra vir tyd om namens haar te reageer.

Zondo het haar regspan tot Maandagoggend hiervoor gegee.

Teen hierdie feitlike agtergrond het Myeni voortgegaan en sy naam vier keer genoem

Zondo het gesê sy indruk was dat Myeni die kommissie respekteer, maar as iemand ’n bevel ignoreer wat hy gemaak het, beteken dit dat die persoon hóm ook disrespekteer.

Zondo het genoem dat sy bevel steeds staan en dat die media nie die naam mag bekend maak wat Myeni genoem het nie.

Mnr. X het met geslote deure getuig en gesê dat dit so gedoen word sodat mense wat Myeni ken, hom nie maklik kan identifiseer en wraak neem nie.

Mnr. X het getuig hy en sy gesin is nie veilig nie. Sy getuienis is “vir ’n aantal mense nie aanvaarbaar nie”.

Hy het getuig hoe hy na bewering ingesleep is by die opstel van vals fakture vir betalings deur die Mhlathuze-waterraad in Richardsbaai, waarvan Myeni die voorsitter was.

Mnr. X het aangevoer Myeni se seun, Thalente Cyril Myeni, was by die oor-en-weer-betalings betrokke en het drie betalings van sowat R1 miljoen elk aan Mnr. X se konstruksiemaatskappy gemaak.

Mnr. X het gesê sy konstruksiemaatskappy het geen dienste hiervoor gelewer nie en sy onderneming se rekening is slegs gebruik om die geld te ontvang en weer uit te betaal. Hy het ook kontant na Myeni se huis geneem, het Mnr. X getuig.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Mnr. X  |  Dudu Myeni  |  Getuie  |  Naam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.