Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Myeni wil niks sê oor Louis Vuitton-sak met geld

Vergaderings wat met oudpres. Jacob Zuma in Nkandla gereël is, die Louis Vuitton-handsak met R300 000 se kontant daarin, asook talle kontant-bankdeposito’s met bedrae so hoog as R100 000 op ’n keer in die Jacob Zuma-stigting se bankrekening.

Oor dié dinge het Dudu Myeni, oudvoorsitter van die SAL-direksie en stigterslid van die Jacob Zuma-stigting, Vrydag op haar derde dag van getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek geweier om ’n verskeidenheid vrae te beantwoord.

Sedert sy Woensdag met haar getuienis begin het, het sy geweier om vrae te beantwoord wat sy meen inkriminerend kan wees.

Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Myeni gestel dat daar e-posbewyse is, asook die bewering van Angelo Agrizzi, oudbedryfshoof van Bosasa, dat sy minstens een vergadering met Zuma in Nkandla gereël het waar die moontlikheid bespreek kon word oor hoe Bosasa by die ontginning van skaliegas in die Karoo betrek kan word.

Hofmeyr het bewysstukke ingedien van e-posse wat klaarblyklik tussen Myeni, Gavin Watson, voormalige grootbaas van Bosasa, Philip O’Quigley, uitvoerende hoof van Falcon Oil and Gas, en Lizel Oberholzer, ’n prokureur, gestuur is. Oberholzer het ook ’n beëdigde verklaring daaroor aan die kommissie verskaf waarin sy sê dat Myeni wel so ’n vergadering gereël het met Zuma.

Dudu Myeni, oudvoorsitter van die SAL-direksie en stigterslid van die Jacob Zuma-stigting, getuig voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Die vergadering was op 27 Julie 2014 in Nkandla, volgens die bewerings.

Hofmeyr het dit aan Myeni gestel dat daar aan die een kant Agrizzi en Oberholzer se weergawe is, asook die e-posse, terwyl Myeni aan die ander kant aangevoer het sy het dit nie gereël nie. Myeni het geantwoord sy wil nie daarop antwoord nie sodat sy haarself nie daardeur kan inkrimineer nie.

Hofmeyr het dit ook aan Myeni gestel dat volgens Agrizzi se getuienis Watson aan hom gesê het dat hy maandeliks R300 000 aan Myeni gegee het sodat dit na die Jacob Zuma-stigting moet gaan. In Myeni se beëdigde verklaring ontken sy dat sy die betalings ontvang het.

Myeni wou ook nie hierop antwoord nie.

Die bewering van Agrizzi dat hy ’n Louis Vuitton-handsak met R300 000 aan haar oorhandig het, het Myeni in haar beëdigde verklaring ontken en in haar getuienis geweier om op die aantyging te antwoord.

Hofmeyr het bankdeposito-strokies wat die Zondo-kommissie se ondersoekers opgespoor het as bewysstukke ingedien waarop ’n handtekening soortgelyk aan Myeni s’n is. Een van die bedrae is R50 000 kontant in R100-note wat op 8 Desember 2014 inbetaal is in die stigting se bankrekening. ’n Tweede inbetaling is op 3 November 2016 gedoen, in dié geval vir ’n bedrag van R100 000 kontant met R20 000 in R200-note en R80 000 in R100-note.

Op 6 Februarie 2016 is nog R100 000 inbetaal wat uit R200-note bestaan het. Nog R50 000 is op dié dag in die stigting se bankrekening met ’n kontant-deposito inbetaal.

Myeni het geweier om daarop kommentaar te lewer.

Op die vraag op watter dag Zuma se verjaardag is, het Myeni gesê sy gaan nie antwoord nie, omdat sy haarself nie wil inkrimineer nie.

Op ’n vraag of sy Watson ken, het Myeni ook in dieselfde trant geantwoord en gesê sy wil nie daarop antwoord nie, vir ingeval sy haarself daardeur kan inkrimineer. Op ’n vraag of sy Watson geken het as ’n gelowige mens, het Myeni dieselfde geantwoord.

Op ’n vraag oor hoe goed sy Agrizzi ken, het Myeni dieselfde geantwoord.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het Vrydag met die aanvang van Myeni se getuienis genoem as sy haar swygreg wil uitoefen, is dit goed, maar sy moet onthou dit is ’n geleentheid om getuienis en haar weergawe te bied op bewerings wat teen haar gemaak is.

Zondo het gesê hy wil aan Myeni herhaal wanneer hy sy verslag voorberei en bevindings doen, sal dit gegrond wees op die getuienis en bewysstukke wat aan die kommissie gelewer is. Zondo het dit aan Myeni gestel dat as hy nie haar weergawe het nie, hy bevindings sal doen ingevolge die getuienis wat voor hom is.

Myeni het Zondo bedank dat hy dit aan haar uitwys.

Meer oor:  Dudu Myeni  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.