Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Myn: AI nooi Gwede oor hy ‘nie wil luister’

Amnestie Internasionaal (AI) het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, skerp veroordeel omdat hy nie na die Xolobeni-gemeenskap se wil oor mynbou in die gebied wil luister nie.

AI het die naweek in ’n verklaring verwys na ’n vergadering op 16 Januarie waarop Mantashe mense, onder andere lede van die Amadiba-krisiskomitee in Xolobeni, toegespreek het oor voorgestelde mynbou-ontwikkeling in die gebied.

Verskeie video’s is van die vergadering geneem en aan AI voorgelê. Twee lede van AI het die vergadering ook bygewoon.

Luidens AI se verklaring het iemand, wat homself as koning Sigcau voorgestel het, op die vergadering opgestaan en gesê Xolobeni behoort aan hom en dat hy mynbou in die gebied verwelkom. ’n Onbekende man, wat homself as ’n lid van die krisiskomitee voorgestel het, het gesê die komitee gee toestemming dat die duine in die gebied vir titaan gemyn mag word.

AI meen daarom dat die vergadering geen betekenisvolle beraadslaging en openbare deelname opgelewer het nie.

Nonhle Mbuthuma, die krisiskomitee se woordvoerder, het gister gesê kort ná die onbekende man se goedkeuring vir mynbou in die duine het die vergadering in chaos ontaard. Mantashe het die vergadering toe verlaat.

Die krisiskomitee, wat reeds langer as tien jaar teen voorgenome mynbou in die gebied veg, het geen kans gehad om vrae aan Mantashe en sy afvaardiging te stel nie, sê Mbuthuma.

Volgens haar het sy by Mantashe gepleit om die vergadering nie te verlaat nie en om die krisiskomitee eers ’n spreekbeurt te gee.

Mantashe het haar pleidooi glo geïgnoreer en net weggestap. Hy het glo voorgegee dat die krisiskomitee daarvoor verantwoordelik is dat die vergadering in chaos ontaard het.

AI sê in die verklaring dié organisasie, wat hom wêreldwyd vir menseregte beywer, is ontstoke oor Mantashe se wanvoorstelling dat die krisiskomitee die chaos op die vergadering veroorsaak het.

“Inteendeel, die minister het die geaffekteerde gemeenskap se pogings om hul siening van mynbou in Xolobeni met hom te deel in die wiele gery. Hy wou nie eens luister wat Mbuthuma, ’n mense- en omgewingsregaktivis, aan hom wou sê nie. Uit die gebeure is dit duidelik dat die (Suid-Afrikaanse) regering inheemse mense en geaffekteerdes uitsluit van dié sogenaamde konsultasievergaderings.”

AI wys voorts daarop dat Mantashe, voordat hy uitgestap het, gesê het hy stem saam met die hooggeregs- hof se uitspraak van November 2018 wat beveel het dat Mantashe die “volle en ingeligte goedkeuring van die inheemse gemeenskap moet kry” voordat mynregte aan Transworld Energy and Min­eral Re­sources (TEM) Trans­energy toegestaan word.

TEM is ’n Australiese maatskappy wat titaan in die kusgebied van 22 km lank en 1,5 km breed wil myn.

AI kritiseer Mantashe ook omdat hy op 13 Desember aansoek gedoen het om appèl aan te teken teen die November-uitspraak.

“Die Suid-Afrikaanse regering is verplig om internasionale reg met betrekking tot mynbou en die goed- of afkeuring daarvan deur inheemse mense te respekteer. Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die Internasionale Konvensie vir die Uitwissing van alle vorme van Rassediskriminasie en is verplig om inheemse mense se wil te re­spekteer.”

Mantashe se hantering van die vergadering is ’n duidelike bewys daarvan dat hy die gemeenskap se teenkanting teen mynbou op hul grond ignoreer en dat hy die krisiskomitee doelbewus uitsluit, lui die verklaring.

“AI meen daarom dat die vergadering geen betekenisvolle beraadslaging en openbare deelname opgelewer het nie.

“AI doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om die Amadiba-gemeenskap van die Wildekus te respekteer en hul wil by alle besluitneming in ag te neem. AI doen voorts ’n beroep op Mantashe om sy appèl teen die hooggeregshofuitspraak van November te laat vaar.”

Ayanda Shezi, Mantashe se woordvoerder, sê die departement sal later op AI se versoek reageer.

Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Myn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.