Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'n Baantjie vir boetie

’n Weermagprojek om aan jong matrikulante ’n voet in die deur van die arbeidsmark te gee het ontaard in ’n werkskeppingsprojek vir die kinders van weermaggeneraals.

Brig.genl. Mafi Mgobozi, weermagwoordvoerder.

Die kinders van minstens sewe generaals en ’n senior amptenaar van die departement van verdediging werk in ’n weermagkantoor wat alle toerusting volgens een standaard probeer kodifiseer.

Daar is drie jaar gelede besluit om sowat 300 “verdienstelike en gekwalifiseerde” werklose matrikulante te teiken vir indiensneming vir dié projek. Dit blyk nou dat jy ’n veel groter kans het om as “verdienstelik” beskou te word as jou pa, ma of ’n familielid ook toevallig ’n generaal of minstens ’n offisier is.

Van die kinders van generaals wat geen ander kwalifikasie as matriek het nie, is op posvlakke 7 en 8 aangestel – dieselfde as vir gekwalifiseerde stafsersante en luitenante. As sodanig verdien hulle sowat R23 400 per maand.

Rapport se inligting dui daarop dat drie van die kinders wat poste gekry het, dié van ’n ontslape generaal in die logistieke omgewing is, terwyl nog twee dié van ’n opvolger is (wat nie meer in die pos is nie). Alle name word op regsadvies weerhou.

Sommige van die generaalskinders, wat geen ander kwalifikasie as matriek het nie, is op posvlakke 7 en 8 aangestel – dieselfde as vir gekwalifiseerde stafsersante en luitenante.

Die poste vir die korttermynkontrakte is nooit geadverteer nie en talle kandidate (veral dié wat nie die regte “konneksies” het nie) moes na bewering R5 000 omkoopgeld betaal om een van die poste te kry. Diegene wat aanvanklik nie die R5 000 kontant kon neersit nie, moes dit ná indiensneming maandeliks afbetaal, is aan Rapport gesê.

Intussen sorg die situasie vir groot onmin omdat die spruite van die generaals swak gedissiplineerd is en vir niemand luister nie. Word hulle aangespreek, gryp hul generaalsouers glo in.

Dit is juis van die kinders se toesighouers wat Rapport uit moedeloosheid genader het oor die onhoudbare en onregverdige druk waaronder hulle geplaas word om bepaalde teikens in die projek te bereik terwyl hulle met “ontembare” jong werkers sit wat nie eens vir werk opdaag nie. En as hulle die loodswaaiers en laatkommers aanspreek, is húlle in die moeilikheid – eerder as die lyfwegstekers.

Luidens dokumente wat die koerant gesien het, word die sewe generaalskinders en die dogter van ’n ministe­riële amptenaar byna daagliks aangespreek omdat hulle òf glad nie vir werk opdaag nie òf laat kom. Die bywoningsregister van Januarie toon drie van die generaalskinders was die helfte van die maand glad nie op kantoor nie. ’n Vierde was net anderhalf week by die werk. In April was een van die kinders sewe van die 18 werksdae afwesig of laat vir werk.

Maar ondanks dié loodswaaiery is pas versoek dat hul kontrakte verleng word “vanweë die noodsaaklike taak wat hulle verrig om die weermag se kodifiseringstelsel op Navo-standaarde te kry”.

Die weermag is al jare lank besig met dié projek omdat sy oorspronklike kodestelsel om beheer oor die uitreiking van toerusting te hê terugdateer tot in 1979. Die laaste register is in 2009 bygewerk.

Die logistieke formasie is verantwoordelik vir die projek en veral vir die bywerk van handleidings om seker te maak dat die leër, die vloot, die lugmag en geneeskundige dienste se registers ’n eenvormige standaard gebruik.

Die senior kolonel wat in beheer van die kodifiseringsprojek staan, is na ’n ander pos oorgeplaas sedert lt.genl. Jabulani Mbuli as die hoof van logistiek in die weermag oorgeneem het. Ingeligtes sê dit is ’n poging om die katnes in dié afdeling oop te krap.

Brig.genl. Mafi Mgobozi, weermagwoordvoerder, sê die weermag is nie bewus van enige bewerings van enige omkopery vir poste nie.

“As daar sulke voorvalle is, moet dit aan die verantwoordelike senior offisiere gerapporteer word.”

Mgobozi het egter nie die aanstelling van die generaalskinders ontken nie. Hy het ook nie bevestig of ontken dat daar inderdaad ’n ondersoek aan die gang is om die “skema” te staak en die skuldiges voor stok te kry nie.

“Die weermag het behoorlike stelsels om swak dissipline in die werkplek hok te slaan en regstellende stappe te doen. Die departement van verdediging veroordeel enige vorm van omkopery of korrupsie en vereis van sy soldate in alle range dieselfde hoë standaarde van dissipline,” het Mgobozi gesê.

Meer oor:  Weermag  |  Omkopery  |  Poste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.