Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
N-Kaap se ‘dienskneg’-premier

Die nuwe Noord-Kaapse premier het as Karoo-kind sonder elektrisiteit grootgeword in ’n gebied in Petrusville waar slegs een gemeenskaplike kraan en toilet was.

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, op stemdag, 8 Mei. Foto: Emile Hendricks

Só vertel vriende van dr. Zamani Saul (47), wat die land aan die praat het oor die besuinigingsmaatreëls wat hy in sy provinsie instel.

Saul het Woensdag die eerste van die beloftes nagekom wat hy in sy inhuldigingstoespraak gemaak het – om ambulanse te koop met geld wat aanvanklik bewillig is om motors vir LUR’e mee te koop.

Altesaam 23 van die beloofde 63 nuwe ambulanse is aangekoop.

Saul het die aandag getrek toe hy in sy inhuldigingstoespraak belowe het om ’n “aktivis-premier” te wees wat altyd tussen die mense beweeg.

“Ek sal minder tyd bestee in die gemak van ’n kantoor en rus in die skadu van selfbewondering” en “my grootste beloning vir die pos van premier sal wees die geluk en vooruitgang van die mense van die Noord-Kaap, veral die armes en weerloses,” het hy gesê.

Hy is deur sy ma, ’n enkelouer, grootgemaak. Saul is dus iemand wat armoede en die bekamping daarvan ernstig opneem.

Hy het gesê hy het, toe hy die pos aanvaar het, gebid om God te vra “om deur sy liefde ons (te) vergewe vir ons selfsugtigheid en vir ons arrogansie, dat Hy ons moet help om ’n skerp, skynende lig te wees in ’n donker plek, en dat Hy ons moet help om ’n brug te wees vir iemand in nood”.

Saul het belowe om die premierswoning en ander niestrategiese bates te verkoop en die opbrengs daarvan te skenk aan die premier se beursfonds vir behoeftige studente.

Motors vir LUR’e sal net aangekoop word as dit “absoluut nodig” is en ná goedkeuring deur die premier. “Alle ongebruikte geld wat vir nuwe karre begroot is, moet na die departement van gesondheid vir die aankoop van ambulanse oorgeplaas word.

“Ons as verkose leiers kan ons nie verlekker in luukse sedans en SNV’s terwyl ons siek mense sukkel omdat daar nie genoeg ambulanse is nie,” het die premier gesê.

Bloulig-motorkavalkades is ook iets van die verlede en sy inhuldiging was in ’n township, Lerato Park.

Hy het gesê die LUR’e moet verstaan “dis ’n absolute eer om ons mense te dien; dis nie ’n trapleer na rykdom en roem nie. Ons is nie koninklikes nie, maar gewone en eenvoudige maatskaplike en politieke aktiviste.”

Rodney Pieterse, wat saam met Saul in ’n arm gemeenskap in Ou Lokasie grootgeword het, sê die premier is grootgemaak deur ’n streng enkelma “met vaste gesinswaardes”.

Saul het hom ook reeds van ’n vroeë ouderdom onderskei as ’n hardwerkende leerling op skool.

Hy was vroeg al betrokke in gemeenskapspolitiek en het in verskeie strukture in Petrusville gedien.

“Hy het gedurende skoolvakansies politieke klasse vir die plaaslike jeug aangebied.”

Alvin Botes, nuwe adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking en voormalige Noord-Kaapse LUR, sê hy het jare lank saam met Saul in ANC-strukture gedien. “Hy is deur sy ma, ’n enkelouer, grootgemaak. Saul is dus iemand wat armoede en die bekamping daarvan ernstig opneem.”

Bonakele Phuzi, nog ’n vriend en kameraad, sê Saul was al op 14 ’n aktivis.

Hy was onder meer ’n provinsiale uitvoerende lid van die studenteorganisasie Cosas, adjunkvoorsitter van die eerste ANC-jeugligatak by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), provin­siale ANC-sekretaris in die Noord-Kaap en is tans ANC-voorsitter in dié provinsie.

Saul het die Visisani Primary School bygewoon, vandaar is hy na die Umso High School in Colesberg en is toe na die UWK waar hy sy BProk-graad voltooi het.

Hy beskik ook oor twee meestersgrade: benewens ’n LLM in die regte het hy ook een in ontwikkelingstudies (2006) van die Universiteit van die Vrystaat.

Sy PhD in publieke reg en regspraak is in 2016 aan die UWK behaal – en in Januarie het hy met ’n tweede doktorsgraad aan Unisa begin.

“Ondanks sy akademiese en politieke prestasies, het hy nooit kontak verloor met sy tuisdorp, Petrusville, nie. Hy was die eerste in sy dorp wat ’n PhD verwerf het,” sê Pieterse.

Saul hou nie daarvan dat ’n ophef oor hom gemaak word nie. “Ek verwerp dit. Ek glo maar net in diensbare leierskap,” het hy Donderdag volgens Ethan van Diemen van News24 gesê.

Andrew Louw, DA-leier in die Noord-Kaap, het gister gesê Saul sal verantwoordbaar gehou word “in belang van die mense van die provinsie”.

Meer oor:  Zamani Saul  |  Noord-Kaap  |  Premier  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.