Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ná 1 jaar geen vordering met Nomvula se korrupsie-nes

Senior amptenare van die uiters korrupte departement van water en sanitasie weier om saam te werk met die spesiale ondersoekeenheid (SOE) wat probeer vasstel wat met die R3,5 miljard gebeur het wat in dié departement verdwyn het.

Rapport verstaan dat inligting oor die ondersoeke teen sekere amptenare en pogings van ander om die ondersoeke na hul wandade te strem die rede is waarom verslaggewers die afgelope week verbied is om ’n vergadering van die portefeuljekomitee by te woon waar dié saak bespreek is.

Vergaderings van parlementêre komitees is in die reël oop vir die publiek. Leon Basson, die DA se woordvoerder oor water en sanitasie, sê daar was geen rede waarom dié vergadering met geslote deure moes plaasvind nie.

Hy sê die SOE, die eenheid wat spesifiek aangesê is om staatskorrupsie te ondersoek, het bloot ’n lang lys name voorgelê van amptenare teen wie ondersoeke gedoen word. Dis egter almal laevlak-amptenare wat heeltemal onbekend is en wat reeds in ou mediaberigte ontmasker is.

“Ons wou weet wie die hoofrolspelers was, maar daar is geen noemenswaardige vordering met die ondersoeke (teen hulle) gemaak sedert die SOE se vorige voorlegging aan die komitee op 1 November verlede jaar nie. Hulle het ons tyd gemors en ons het dit in vraetyd aan hulle gesê,” het Basson aan Rapport gesê.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, het dokumente met die inligting aan die lede van die portefeuljekomitee uitgedeel, maar dit weer teruggevat voordat die geslote komiteevergadering verdaag het.

Die SOE het gesê die rede vir die stadige vordering met hul ondersoek is die feit dat hulle sukkel om die nodige dokumente uit die departement te kry.

“Mothibi het onderneem om hofprosesse nou aan die gang te sit om die dokumente te kry,” het Basson gesê.

“Dis hoofsaaklik betalingsbewyse wat die SOE probeer opspoor, maar almal weet hoe langer dit duur om ’n misdaadondersoek aan die gang te kry, hoe skraler is die kanse om bewysstukke te vind. Die vertragings hiermee is dus ’n openlike uitnodiging aan die amptenare om aan te hou steel, want hulle weet hulle gaan nie vervolg word nie.”

Die ANC-parlementslid Cedric Frolick, voorsitter van komitees, het die Persgaleryvereniging – waartoe alle parlementêre verslaggewers behoort – die volgende dag om verskoning gevra vir die feit dat die vergadering geslote verklaar is. Hy het dit toegeskryf aan ’n “verkeerde vertolking” van nuwe reëls wat ’n prosedure skep waarvolgens komiteevergaderings wel tot geslote sittings verklaar kan word.

Die departement van water en sanitasie het grootliks ineengestort onder die leiding van die vorige minister, Nomvula Mokonyane, wat in Februarie deur pres. Cyril Ramaphosa verskuif is na die kommunikasie-portefeulje.

Gugile Nkwinti, die nuwe minister, probeer die tesourie oorreed om ’n reddingsboei van R2,5 miljard beskikbaar te stel vir die Trans-Caledon-waterowerheid wat water uit Lesotho vir Gauteng verseker.

Daar is ook ’n tekort van sowat R3 miljard in die departement se eie begroting van R15,5 miljard wat in Mei by die parlement ingedien is. Die ouditeur-generaal het onlangs die twyfel uitgespreek of die departement hoegenaamd kan voortbestaan.

Tito Mboweni, nuwe minister van finansies, sal Woensdag in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk moet uiteensit hoe die departement weer finansieel op die been gebring kan word.

Meer oor:  Nomvula Mokonyane  |  Soe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.