Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ná 25 jaar sal Radebe ’n ‘trotse ambassadeur’ bly

Sy loopbaan in Suid-Afrika se kabinet het ná 25 jaar tot ’n einde gekom, maar Jeff Radebe beplan om altyd ’n “trotse ambassadeur” van Suid-Afrika te wees en sy pogings voort te sit om die Afrika-vasteland te bou.

Dié politikus wat sedert 1994 in elke kabinet gedien het, is nie Woensdag in pres. Cyril Ramaphosa, sy swaer, se kabinet ingesluit nie.

Jeff Radebe Foto: Lindile Mbontsi

Radebe het Suid-Afrikaners Donderdag in ’n verklaring bedank dat hy hulle die afgelope 25 jaar kon dien. Dit was vir hom ’n eer en voorreg om sy deel vir die nasie te doen.

“Ek het sedert 1994 saam met elke postapartheid-president gewerk en my plig vervul as minister in sleutelportefeuljes soos openbare werke, openbare ondernemings, vervoer, gesondheid, justisie en grondwetlike ontwikkeling, energie sowel as in die presidensie.

“Ek het oor die jare ongelooflike ervaringe en avonture gehad en uitsonderlike samewerkings opgebou wat tot lewenslange vriendskappe gelei het, waarvoor ek so dankbaar is. In alles wat ek gedoen het, het ek probeer om die land eerbaar, eties, nederig en nog belangriker, regverdig te dien,” lui die verklaring.

Suid-Afrika het volgens Radebe ongetwyfeld sy uitdagings, maar as die mense van die land verenig, kom hulle sterker anderkant uit. Hy het volle vertroue in die nuwe administrasie onder Ramaphosa.

Derek Hanekom, nóg ’n minister wat nie na die kabinet teruggekeer het nie, is Donderdag op Twitter met boodskappe van voorspoed oorval.

Dié voormalige minister van toerisme is veral deur rolspelers in die toerismebedryf geprys vir sy termyn en sterkte vir die toekoms toegewens. Hy sal luidens berigte as LP in die Nasionale Vergadering aanbly.

Intussen het die DA dr. Naledi Pandor, Tito Mboweni en Jackson Mthembu se insluiting in Ramaphosa se nuwe kabinet verwelkom, maar die insluiting van Maite Nkoana-Mashabane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, dr. Blade Nzimande, Patricia de Lille, Lindiwe Zulu en Thulas Nxesi om verskeie redes betreur.

Die party het in ’n verklaring gesê terwyl die land stoei met die gevolge van dekades van staatskaping verdien Suid-Afrika ministers wat bo verdenking is. “Ongelukkig is dié ministers nie,” lui die verklaring.

Die party het in ’n verklaring gesê terwyl die land stoei met die gevolge van dekades van staatskaping verdien Suid-Afrika ministers wat bo verdenking is.

Met verwysing na Ramaphosa se belofte om minder kabinetslede aan te stel, het die DA gesê terwyl dit die vermindering van sewe ministers verwelkom, kan dit kwalik beskou word as die gordel wat stywer getrek word. “Die ministers, hul adjunkte, hul luukse motors en die koste van BBP-veiligheid sal die mense van Suid-Afrika meer as R1 miljard per jaar kos.”

Dit is volgens die party onaanvaarbaar in ’n land waar die helfte van jong mense nie ’n werk kan kry nie. “Die DA herhaal dus sy beroep vir BBP-beskerming vir die uitvoerende gesag om besnoei te word.”

Meer oor:  Jeff Radebe  |  Derek Hanekom  |  Cyril Ramaphosa  |  Pretoria  |  Inhuldiging  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.